|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Hoë pos vir Khampepe
11/05/2008 09:37:10 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Regter Sisi Khampepe is deur die minister van justisie, me. Brigitte Mabandla, aangestel as waarnemende adjunkpresident van die arbeidsappèlhof.
Khampepe het ’n huishoudelike naam oor die land heen geword toe sy aangestel is om die voortbestaan van die Skerpioene as deel van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te ondersoek.
Dit het onlangs aan die lig gekom dat sy aanbeveel het dat die Skerpioene deel van die NVG moet bly en nie by die polisie ingelyf moet word nie, soos die regering tans besig is om te doen.
Die aanstelling maak van Khampepe tans die tweede mees senior vroulike regter in die land. Net regter Kate O’Regan, wat waarnemende adjunkhoofregter is, is meer senior as sy.
Khampepe was langer as sewe jaar ’n regter in die hooggeregshof in Johannesburg voordat sy verlede jaar as regter in die arbeidsappèlhof aangestel is.
Regter R.M. Zondo, president van die arbeidsappèlhof – op wie se aanbeveling Mabandla vir Khampepe aangestel het – sê Khampepe het uitgebreide ervaring in sowel die hooggeregshof as in arbeidsgeskille. Selfs as prokureur het sy arbeidsgeskille gehanteer wat tot waterskeiding-uitsprake gelei het, sê hy. Haar aanstelling het op 1 Mei in werking getree.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |