|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Nuus
Gegradueerdes verdien meer
09/05/2008 10:12:56 AM - (SA)
Iemand verdubbel sy salaris of loon wanneer hy matriek slaag en verhoog sy inkomste daarna weer met 350% wanneer hy ’n baccalareus-graad verwerf, sê mnr. Mike Schüssler, ekonoom van T-Sec.
Iemand met ’n normale lewensverwagting wat ’n graad verwerf, verdien in sy leeftyds 308% meer as iemand wat net matriek geslaag het, lui die jongste indiensnemingsverslag van die vakbond Uasa wat deur Schüssler opgestel word en gister bekend gestel is.
Daarvolgens is onderwys verreweg die belangrikste faktor wat iemand se verdienste bepaal.
“Iemand wat geen skoolopvoeding gehad het nie, verdien net meer as R1,15 miljoen in sy leeftyd wanneer van die veronderstelling uitgegaan word dat hy 50 jaar werk.
“Iemand wat ’n meestersgraad verwerf het, sal sowat 37 jaar lank werk en sowat R24 miljoen verdien. Iemand met geen skoolopvoeding nie, staan egter ook ’n kans van 30% om werkloos te wees terwyl dié kans minder as 5% is vir iemand met ’n meestersgraad,” lui die verslag.
Schüssler het die data in die arbeidsmagpeiling van Maart verlede jaar gebruik om die verslag op te stel.
Daarvolgens is beroepsrigtings in die regte, militêre wetenskappe en sekuriteit die betalendste. Mense in die dienstesektore word die swakste betaal.
“ ’n Mens moet egter in gedagte hou dat die gasvryheidsbedryf en die kleinhandel ’n groot deel van dié sektor uitmaak en dat die sektore gereguleer word deur die departement van arbeid se arbeidswetgewing,” sê Schüssler.
Arbeidswetgewing tref klaarblyklik mense met hoër onderwyskwalifikasies swaarder as halfgeskooldes en ongeskooldes, lui die verslag.
Schüssler se ontleding wys dat wit mense se inkomste gemiddeld 450% hoër is as swart mense s’n en 400% meer as bruin mense s’n. Asiërs verdien gemiddeld 70% soveel soos wit mense.
Die eienaar van ’n sakeonderneming verdien gemiddeld sowat 14% meer as ’n werknemer.
Sowat 85% van die land se werkmag werk vir iemand anders, maar bykans een uit elke vier wit mans werk vir hulself, terwyl een uit elke vyf Asiërmans en wit vroue vir hulself werk.
Schüssler verwag dat loonverhogings vanjaar gemiddeld 11,8% sal beloop om te vergoed vir hoër inflasie, maar dat dit aanstaande jaar sal afplat tot 9,7% namate inflasie begin daal.
Hy maak die berekening uit ’n ontleding van talle loonooreenkomste wat bepaal dat verhogings tussen 1% en 2% hoër as die VPIX-inflasiekoers sal wees.
Schüssler verwag ook dat die groei in indiensneming, wat die afgelope drie jaar een van die belangrikste ekonomiese ligpunte was, vanjaar skerp gaan daal tot rondom 1,5%.
In 2005 en 2006 het indiensneming met 3,5% gegroei, maar dit het verlede jaar reeds begin afplat tot 2,3%.
“Ons het probleme vanweë die hoër rentekoerse en die elektrisiteitskrisis, maar dis nog moeilik om die uitwerking daarvan te meet,” het hy gesê. - Sake24
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |