|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
SA voel toenemend onveilig – verslag
09/05/2008 08:47:47 AM - (SA)
PRETORIA. – Suid-Afrikaners voel toenemend onveilig ondanks die polisie se statistieke wat aandui dat misdaad sedert 2003 afgeneem het.
Me. Antoinette Louw, navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), het gister ’n verslag in Pretoria bekend gemaak wat daarop dui dat Suid-Afrikaners baie onveilig voel en glo dat misdaad die afgelope vier jaar toegeneem het.
Altesame 4 500 Suid-Afrikaners is by dié studie betrek.
Luidens die studie is Suid-Afrikaners klaarblyklik sat vir misdaad en meen die regering moet meer geld aan strafmaatreëls (34%) bestee om misdadigers aan die pen te laat ry. In 2003 het 15% dié standpunt gehuldig.
Van die bevindings is dat daar sedert 2003 ’n toename in rooftogte en motordiefstal was, terwyl huisbraak steeds die algemeenste misdaad is. Altesame 3,6% van die respondente was die afgelope twaalf maande slagoffers van ’n rooftog, 7,2% van huisbraak, 4,9% van diefstal van persoonlike besittings en 1,3% van motordiefstal.
In 2003 het 57% van die slagoffers van huisbraak dit aangemeld. Dié syfer het opgeskuif na 81%. Wat rooftogte betref, het die syfer van 29% in 2003 gestyg tot 49%.
Altesame 57% van alle Suid-Afrikaners het gesê misdaadvlakke in hul omgewing het die afgelope vier jaar toegeneem, teenoor 53% in 2003.
Indiërs (85%) was die meeste geneig om te glo misdaad het toegeneem, naas wittes (63%), bruines (57%) en swart mense (54%).
Die persepsie van die meeste van die mense in al die provinsies behalwe Limpopo en die Noord-Kaap was dat misdaad die afgelope vier jaar toegeneem het.
Met verwysing na hoe veilig mense voel, het altesame 62% gesê hulle voel baie onveilig om ná sononder in hul omgewing te stap. Die persentasie mense wat baie onveilig voel, het tussen 1998 en 2007 met 148% toegeneem.
Uit die studie het ook geblyk dat mense in Gauteng, Mpumalanga en Noordwes die onveiligste voel. Dít is ook die provinsies waar mense aangedui het dat die polisie swak vaar.
In 2003 het 4% van die respondente geglo misdade word deur vreemdelinge gepleeg. Dit het gestyg tot 10%. Sowat 50% van alle Suid-Afrikaners glo egter misdade word deur gepleeg deur mense wat in hul gebied gebore is.
Respondente het hebsug (44%) as die belangrikste rede vir misdaad aangevoer, gevolg deur niefinansiële redes (32%) en werklike behoefte (17%).
Op die vraag waaraan die regering geld moet bestee om omgewings waar geweldsmisdaad ter sprake is, veiliger te maak, het 34% gesê aan beter strafmaatreëls. Sowat 26% het gesê meer polisiëring en 36% maatskaplike ontwikkeling. In 2003 was 62% ten gunste van meer geld vir maatskaplike ontwikkeling en 15% ten gunste van strafmaatreëls.
Louw het gesê Suid-Afrikaners is baie meer krities oor die oorsake van misdaad en wat die regering daaraan moet doen. Sy meen dit sal toenemend moeiliker word om dié tendens om te keer.
Uit die verslag blyk dat polisiesigbaarheid ná 2003 verbeter het, maar dat daar steeds negatiewe persepsies oor die polisie is, soos dat hulle nie betyds reageer nie (56%), lui is (26%), korrup is (22%) en met misdadigers saamwerk (13%).
Uit die studie het geblyk 25% van Suid-Afrikaners ken iemand in hul omgewing wat ’n bestaan uit misdaad maak.
Hulle is ook nog apaties om hulself en hul huishoudings teen misdaad te beskerm; 60% het in 2003 én 2007 niks hieraan gedoen nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |