|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Die skoolbus se wrak word uit die sloot gelig nadat dit die pad verlaat het en op sy linkerkant te lande gekom het. Foto: LEáNNE STANDER
Nuus
Kind sterf toe bus gly
08/05/2008 09:49:01 PM - (SA)
PRINCE ALFRED HAMLET. – “O, Here! Wie is dit, Clarissa of Elzene?”
Mev. Jasmine Seiman van die plaas Dennekruin hier was gister erg geskok toe sy hoor dat die bus waarin altwee haar dogers op pad skool toe was, in ’n ongeluk betrokke was en dat een kind in die ongeluk dood is.
Clarissa Conell Smit (12), ’n gr. 7-leerder aan Die VGK Primêre Skool Die Eike is gister om 10:35 in die ongeluk op die Dennekruin-plaaspad (’n private pad) agter die Witzenburgvallei, dood.
Clarissa se negejarige suster Elzene, was ook in die skoolbus. Sy het kneusplekke aan haar gesig.
Daar was 18 kinders in die bus.
Volgens kapt. Albert Ballack van die Prince Alfred Hamlet-polisiekantoor, moes die 60-sitplek-skoolbus uitswaai vir ’n aankomende vragmotor op dié baie nou pad.
Die bestuurder, mnr. Jonathan Matthys (40) van Ceres, het vroeër die oggend ’n groep leerders by die skool afgelaai en was met ’n tweede groep op pad skool toe toe die ongeluk gebeur het.
Die bus het oor die linkerskouer van die pad geswenk, die pad verlaat en met sy agterkant in die diep sloot langs die pad beland voor dit op sy linkerkant omgeslaan het.
Clarissa het uitgeval. Sy was onder die wrak vasgekeer en het op die toneel beswyk. Nog sewe kinders is met geringe beserings na die privaat hospitaal in Ceres gebring.
Haar oupa, mnr. Andries Smit, was ná die ongeluk op die toneel. Hy het die tyding van haar dood aan haar ma oorgedra. Iemand het vroeër by haar huis op die plaas Dennekruin aangekom terwyl sy besig was om wasgoed op te hang en het haar oor die ongeluk ingelig, het Seiman gister bedroef gesê.
“Toe ek sien my pa sit met die plaasbestuurder in die kar, toe weet ek iets is fout,” het sy gesê.
Smit het gesê hulle het nog tot op die laaste gehoop Clarissa sou lewendig daar uitkom. Hy is hartseer en geskok maar bly dat sy nou in “veilige hande is,” het hy gesê.
Die provinsiale minister van onderwys, mnr. Cameron Dugmore, het gesê die verlies van só ’n jong lewe het hom diep bedroef gelaat.
Dugmore se woordvoerder, mnr. Gert Witbooi, het gesê die skoolbeheerliggaam is verantwoordelik vir die administrasie van die bus en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) betaal vir die huur daarvan. Die bus behoort aan ’n private kontrakteur.
Die WKOD het ’n verslag van een van sy amptenare ontvang wat meld dat die bestuurder ook die opsigter by die skool is, het Witbooi bygevoeg.
“Of hy ’n lisensie het om ’n bus te bestuur, of hy voorheen die bus bestuur het en hoe dit gebeur het dat hy die bus bestuur het, gaan deel van die WKOD se ondersoek uitmaak.”
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
.’n Baaise taxibestuurder en sy “guardjie” is gistermiddag in die Port Elizabeth-landdroshof op borgtog van R500 elk vrygelaat nadat hulle glo 35 skoolkinders in hul taxi vervoer het.
Mnre. Anthony Jantjies (22), die bestuurder, en Samuel Witbooi (24) is gister omstreeks 08:00 deur twee verkeersbeamptes in Govan Mbeki-rylaan afgetrek.
Witbooi het na bewering die kinders beveel om uit die taxi te spring, maar die verkeersbeampte het ingegryp en die kinders aangesê om terug in die voertuig te klim.
Witbooi en Jantjies het met die voertuig se sleutels van die toneel gevlug. Hulle is enkele minute later deur die verkeersbeamptes in hegtenis geneem.
Witbooi word aangekla omdat hy versuim het om die verkeersbeamptes se instruksies te volg.
Jantjies word aangekla omdat die voertuig oorlaai was.
Die saak is tot 22 Julie uitgestel. – Ema Buffel, Rozanne Els en Ilse Fredericks en Euline Fillis
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |