|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Najwa sê gou sy is nie betrokke
08/05/2008 09:20:48 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Nog voordat mev. Najwa Petersen deur die polisie as ’n verdagte beskou is, het sy herhaaldelik onder eed verklaar dat sy niks met haar man se moord te doen gehad het nie.
Só het die Kaapse hooggeregshof gister gehoor toe die ondersoekbeampte, kapt. Joe Dryden, gister getuig het.
In ’n verklaring wat mev. Petersen twee dae ná haar man se moord aan Dryden gemaak het, sê sy daar was geen “kwade gevoelens” tussen haar en man nie, selfs nadat sy hom in April 2006 met ’n mes gesteek het.
Hof 1 was gister, soos gewoonlik volgepak. Mnr. Ngconde Balfour, minister van korrektiewe dienste, en sy adjunk, me. Loretta Jacobus, het in ’n persbank in die hof gesit.
Regter Siraj Desai het vir Balfour geknip-oog toe hy en Jacobus die hof weer verlaat het.
Luidens mev. Petersen se verklaring was sy in ’n “diep slaap” toe sy “wild wakker gemaak is” deur ’n onbekende man.
Sy het verduidelik hoe hulle beroof is terwyl ’n vuurwapen teen haar kop gehou is. Die aanvallers het haar in haar kamer toegesluit nadat sy vir hulle gewys het waar die kluis is.
“Kort daarna het ek een skoot hoor afgaan en daar was ’n doodse stilte.”
Mev. Petersen het luidens die verklaring hierna verskeie familielede gebel.
Adv. Shareen Riley, vir die staat, het dit aan Dryden gestel dat mev. Petersen dit twee keer in haar verklaring stel dat sy “niks het om weg te steek nie”.
“Het u dit vir haar gevra?” wou Riley by Dryden weet.
Dryden het geantwoord dit is wat sy vir hom gesê het en dat hy haar net uitgevra het as hy meer duidelikheid oor kwessies wou kry.
In ’n tweede verklaring wat mev. Petersen op 12 Januarie 2007 afgelê het, skets sy die verhouding met mnr. Fahiem Hendricks (wat die staat aanvoer sy gevra het om die moord te beplan) as ’n “telefoonverhouding” weens die baie oproepe.
Dryden het ook getuig van ’n Liberty Life-polis van Taliep van R5,3 miljoen waarvan die egpaar se dogter Zaynab die begunstigde was.
Riley het gevra hoe dit uitbetaal sou word. “Mev. Petersen het haar Namibiese rekening gegee en dit sou daarin betaal word.”
Hy het gesê mev. Petersen was die voog, so as die polis uitbetaal is, sy beheer daaroor kon uitoefen. In Maart verlede jaar is dokumentasie voltooi vir ’n trust vir Zaynab.
Tydens kruisondervraging het adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC, vir mev. Petersen, Dryden gevra oor ’n kussing wat in die moord gebruik is wat nie in die huis gevind kon word nie. “U sal onthou beskuldigde drie (mnr. Waheed Hassen) vertel van ’n kussing waarin die vuurwapen toegevou is.”
Dryden het gesê hy het navrae gedoen, maar kon geen kussing opspoor nie. “Ons het eers ses maande later van die kussing uitgevind,” het hy gesê.
Die regter het bygevoeg: “Tensy iemand dit weggesteek het”.
Die advokaat het dit ook aan Dryden gestel dat die skoot afgegaan het terwyl mev. Petersen ’n familielid gebel het. “U het haar getreiter van dag een af.”
Dryden het dit ontken en gesê hy is steeds respekvol teenoor haar.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |