|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Supt. Piet Viljoen gister op die polisie se weeklikse mediakonferensie. Foto: FRANCOIS NEL
Nuus
Supt. Viljoen ontken Zille se aantygings
08/05/2008 09:24:59 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Supt. Piet Viljoen ontken bewerings van me. Helen Zille dat hy gespog het dat hy met sy ondersoek vir die Desai-kommissie die DA in ’n verleentheid geplaas het.
Viljoen, hoof van die eenheid teen georganiseerde misdaad, het op die polisie se weeklikse mediakonferensie ontken dat hy enigsins by die Desai-kommissie betrokke was.
Hy het ook gesê hy het nog nooit vir die Erasmus-kommissie gewerk nie. “Ek is gedagvaar en as jy gedagvaar word, moet jy die dokumente wat gevra word, beskikbaar stel. Dit is wat ek gedoen het,” het Viljoen verduidelik.
Hy het gereageer op koerantberigte waarin Zille aangehaal is dat sy sê die polisie, Viljoen se eenheid en die Erasmus-kommissie staan mnr. Ebrahim Rasool by om inligting in te samel, wat ’n verbreking van die grondwetlike onderskeid tussen die politieke sfeer en die polisie is.
Viljoen en sr.supt. Billy Jones, ’n polisiewoordvoerder, het dié bewerings ontken.
Viljoen, wat tans die hoofondersoekbeampte in Kaapstad se spioenasiesage is, het aan die media gesê hy en kapt. Kenneth Speed het in onderhoude met Zille eers verlof gevra om gesprekke op te neem.
Daar is dokumentêre bewyse van gesprekke tussen hulle.
Zille is bewus van die dokument en die inhoud daarvan. Dit is ook deur haar onderteken.
Opnames van gesprekke is juis gemaak om te verseker dat daar akkuraatheid in die ondersoek moet wees en dat niemand later kan sê iets is verdraai nie.
Volgens Viljoen is hy meer as bereid om die bandopnames en dokumente aan die media beskikbaar te stel, maar nie sonder Zille se toestemming nie.
“Ek wil nie môre hoor dat die polisie inligting aan die media laat uitlek nie.”
Jones het gesê as Zille met haar beweringe voortgaan, sal die polisie nie anders kan nie as om regsadvies oor moontlike stappe in te win.
Intussen het die polisie ook bevestig dat die ondersoek na die beweerde betrokkenheid van mnr. Badih Chaaban, NPPraadslid, by die spioenasiesage byna voltooi is. Viljoen het bygevoeg dat Zille al in Oktober verlede jaar ingelig is dat daar wél ’n ondersoek na Chaaban se beweerde betrokkenheid is.
Zille se regsverteenwoordiger, me. Fiona Stuart, het gister gesê dat die bandopnames lankal by die Erasmus-kommissie ingedien is. “Dit is daar vir die publiek om te sien en Viljoen kan dit bekend maak as hy wil,” het sy gesê.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |