|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Me. Helen Zille Foto: GARTH STEAD
Nuus
Rasool, Dyantyi nie gelys om te getuig
07/05/2008 09:56:40 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Nié die premier, mnr. Ebrahim Rasool, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en behuising, mnr. Richard Dyantyi, óf die provinsiale polisiekommissaris, komm. Mzwandile Petros, is gelys om voor die Erasmus-kommissie te getuig nie.
Die burgemeester, me. Helen Zille, het in ’n beëdigde verklaring aangevoer Rasool het onder eed leuens vertel in sy poging om die aanstelling van die Erasmus-kommissie te verdedig.
Zille het ook uitgewys nóg Rasool nóg Dyantyi is gelys om voor die kommissie te getuig hoewel die kommissie van ondersoek op die basis van hul bekommernisse saamgeroep is.
Verder voer Zille aan die polisie het onbehoorlik en in sommige gevalle onwettig opgetree in die bystand wat aan Rasool verleen is “in sy politieke aktiwiteite”.
“Toe ek by die Bellville-polisiekantoor ondervra is, het insp. Viljoen gespog oor die verleentheid wat sy ondersoek vir die DA veroorsaak het in die Desai-kommissie en het hy dit duidelik gemaak dat hy oortuig is ek persoonlik het iets verkeerd gedoen,” het Zille gesê.
Verder word aangevoer die polisie en die eenheid teen georganiseerde misdaad het die Erasmus-kommissie en Rasool bygestaan om inligting in te samel, wat ’n verbreking is van die grondwetlike onderskeid tussen die politieke sfeer en die polisie.
“Die hulp wat die polisie aan die kantoor van die premier gebied het, staan in skrille kontras met die (tekort aan) diens aan die stad Kaapstad.”
Zille se verklaring het gevolg op Rasool se beëdigde verklaring.
Dié beëdigde verklaring van die premier is verlede week ingedien in sy opponering van die aansoek deur die stad Kaapstad om die Erasmus-kommissie onwettig te laat verklaar.
Volgens Zille is dit die stad se mening dat Rasool buite sy bevoegdheid opgetree het met die aanstelling van die Erasmus-kommissie.
Zille verklaar:
. Die geldelike bekommernisse wat deur Erasmus aangevoer word en wat volgens die stad nie steek hou nie, moet deur die ouditeur-generaal nagegaan word.
. Die aantygings van moontlike strafregtelike optredes moes by die polisie of die nasionale vervolgingsgesag aangemeld word en nie deur Rasool, as politikus, ondersoek word nie.
. Die reeks “leuens” in Rasool se verklaring en sy openbare uitlatings om die Erasmus-kommissie te regverdig, is nie in goeie trou nie.
. Die feit dat die provinsie nié ’n artikel 106-ondersoek of kommissie van ondersoek gelas het toe die Big Bay- en Jewellery City-tenderskandaal in die media genoem is nie, wys “sy ware politieke motiewe”.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |