|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
SAUK ‘was soos spaza’
07/05/2008 09:55:50 PM - (SA)
JOHANNESBURG. – Dr. Snuki Zikalala en adv. Dali Mpofu het die SAUK soos ’n spaza-winkel bestuur en hulle moes lankal geskors gewees het.
Só het die ANC-jeugliga gereageer op die nuus dat die groephoof vir nuus en die SAUK-groephoof geskors is.
Mpofu is minder as ’n dag nadat hy Zikalala, geskors het, self geskors.
Die jeugliga se reaksie was in samehang met die algemene mening in politieke kringe dat die SAUK ’n verandering beleef konkurrent aan die een in die ANC. Zikalala is naamlik baie naby aan pres. Thabo Mbeki terwyl Mpofu, so sê verskeie in die SAUK-binnekringe, tans poog om hom by die faksie van mnr. Jacob Zuma in te wurm.
Die SAUK-raad het gister aangekondig Mpofu is geskors hangende ’n ondersoek na “baie ernstige bewerings” oor sy gedrag.
Mnr. Gab Mampone, die SAUK se groephoof van kommersiële ondernemings, is volgens die webtuiste SABCnews.com intussen as waarnemende groephoof aangestel.
Luidens ’n verklaring wat deur me. Kanyisiwe Mkonza, voorsitter van die raad, uitgereik is, het Mpofu glo nie raadsbesluite in werking gestel nie.
Mpofu is met volle salaris geskors hangende die raadsondersoek en, indien nodig, ’n tugondersoek.
“Ons beoog om die ondersoek binne 30 dae af te handel. Intussen wil ek dit duidelik stel dat geen besluit in hierdie stadium geneem is om die groephoof se dienste te beëindig nie,” sê Mkonza.
Volgens SABCnews.com het Mpofu gesê Zikalala se skorsing hou verband met die beweerde uitlek van “sensitiewe dokumente”. Die Burger se susterkoerant City Press het gister op sy webtuiste berig dié dokumente hou verband met ’n arbeidsaak waarin ’n voormalige uitvoerende vervaardiger van Lesedi FM, mnr. Hlaudi Motsoeneng, afgedank is.
Mpofu het glo instruksies van ’n senior lid van die ANC gekry om Motsoeneng, wat glo onbehoorlike salarisverhogings- en bevorderings aan vroue gegee het, weer aan te stel. Hy het glo dié opdrag aan Zikalala oorgedra, maar dié het glo geweier en vir Mkonza van die “onredelike versoek” vertel.
Die Burger het vroeër berig dat ongelukkigheid oor die raad, wat kort ná sy nederlaag in Polokwane deur Mbeki bekragtig is, geruime tyd onder lede van die nuwe ANC-leierskorps broei. Dié party het verlede week ’n mosie van wantroue teen die raad ingestel.
Ondersteuners van Zuma het die SAUK daarvan beskuldig dat hy Mbeki bevoordeel het voor die Polokwane-kongres, en die openbare uitsaaier het verlede jaar onder skoot gekom vir weiering om ’n kontroversiële dokumentêr oor Mbeki uit te saai.
Me. Dene Smuts, DA-LP, het gesê die ondersoeke teen Mpofu en Zikalala moet regverdig gehanteer word.
“Ons kan nie langer ’n situasie hê waar die openbare uitsaaier ’n slagoffer van interne party-oorloë is nie,” het me. Patricia de Lille, leier van die OD, gesê.
Volgens me. Jessie Duarte, ANC-woordvoerder, kan die huidige situasie nie in terme van pre- of post-Polokwane gedefinieer word nie. Die raad is aangestel en moet sy werk doen – ongeag wie of wat sy lede ondersteun, het sy gesê.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |