|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Steve Hofmeyr se herstel ‘merkwaardig’
07/05/2008 09:40:31 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Steve Hofmeyr is – letterlik – weer op die been.
Minder as 72 uur nadat ’n noodoperasie Sondagnag in ’n Gautengse hospitaal op hom uitgevoer is, is Hofmeyr gisteroggend die eerste keer toegelaat om uit sy bed op te staan en ’n paar treetjies te loop.
Me. Amanda Singleton, ’n vriendin van Hofmeyr en sy vrou, Natasha, sê dokters is hoogs tevrede met die vordering wat Hofmeyr maak ná wat algemeen bekend is as ’n besonder ernstige operasie.
Hofmeyr moes vir ’n geperforeerde dikderm geopereer word nadat hy Saterdag maagpyn begin kry het en Sondag nie meer die pyn kon verduur nie.
Die operasie is omvangryk omdat die hele dikderm en ingewande tydens die operasie ondersoek en skoongemaak moet word om seker te maak dat van die inhoud van die dikderm wat uitgelek het, nie in die maagholte agterbly nie.
“As ’n mens die omvang van só ’n mediese ingryping besef, is Steve se herstel merkwaardig.
“ ’n Mens kan amper sê die ou Steve is op pad terug. Hy praat aaneen en maak grappe. Hy kon homself reeds vanoggend (gister) was.
“Hy verduur natuurlik nog baie pyn en het sedert die operasie nog geen vaste kos ingekry nie. Hy kry aarvoeding. Maar gister is begin met fisioterapie wat sy herstel hopelik sal bespoedig.”
Daar is nog geen aanduiding wanneer Hofmeyr sy optredes sal kan hervat nie, maar een ding is duidelik: die onverwagte krisis gaan hom en Natasha nie stuit om later vanjaar hul tweede huwelik aan die Weskus deur te voer nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |