|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Satellietbeelde van die laagliggende Irrawhaddi-delta in die suide van Mianmar wys hoe die gebied vóór die sikloon gelyk het en hoe dit nou daar uitsien. Foto: NASA
Nuus
SA wil hulp verleen, maar mag nog nie
07/05/2008 09:07:09 PM - (SA)
PRETORIA. – ’n Suid-Afrikaanse noodlenigingspoging om in die sikloongeteisterde Mianmar (Birma) te gaan help, word weens die chaos in dié land in die wiele gery.
Vliegtuigbrandstof-opslagplekke by Jangon, Mianmar se grootste stad, is deur vloedwater oorstroom.
Terselfdertyd blyk die land se militêre regering traag te wees om visums vir noodlenigingswerkers toe te staan.
Die aantal dooies en vermistes in dié land in Suidoos-Asië het gister tot meer as 60 000 gestyg.
Dit is die grootste ramp weens natuurlike oorsake in dié gebied sedert ’n tsoenami Indonesië en omliggende lande in Desember 2004 getref het. Meer as 300 000 mense is tóé dood.
Die tropiese sikloon Nargis het die suidelike deltagebiede van Mianmar Saterdag getref en dié gebied is deur vloedwater verswelg.
Die Suid-Afrikaanse noodlenigingsgroep Gift of the Givers het reeds voorraad gereed om te gaan aflewer, het dr. Imtiaz Sooliman gister gesê.
“Toegang tot die land is ’n groot probleem en dit lyk nie of die regering die probleem vinnig gaan oplos nie.”
Die groep het tente, komberse, kookstelle, plastiekseile, kos, medisyne en slaapsakke van altesame sowat R5 miljoen gereed.
Verdere skenkings sal moontlik ook in Doebai, Pakistan en Indië opgelaai word – mits die groep die nodige magtigings kry vir ’n Ilyushin-76-vragvliegtuig en sy span aan boord.
Dit duur vier tot vyf dae vir ’n vragvliegtuig om oorvlieg-magtiging van Indië te verkry.
Luidens Irin, die Verenigde Nasies (VN) se nuusdiens, is honderdduisende mense dakloos gelaat toe stormwind van tot 190 km/h met die kragtige sikloon gepaardgegaan het.
Die sikloongeteisterde gebiede is boonop haas onbegaanbaar met bome wat paaie toegeval het of paaie wat eenvoudig weggespoel is.
Die gebied is Mianmar se grootste rysproduksiegebied. Volgens die VN gaan dit in die volgende paar maande tot kostekorte lei.
Daar is haas geen skoon drinkwater in die gebied nie en volgens die VN is siektes weens die onhigiëniese omstandighede die verwagte sekondêre krisis.
Mianmar se militêre regering, wat berug is vir die onmenslike verdrukking van sy inwoners, word reeds daarvan beskuldig dat hy nie genoeg doen om noodspanne tot die land toe te laat nie.
Indië se sikloonwaarskuwingsentrum het eergister ook gesê dat hy Mianmar se owerheid twee dae voor die tyd gewaarsku het om mense uit die laagliggende gebiede te verwyder omdat die sikloon waarskynlik daar aan wal sou gaan.
Die waarskuwing is egter nie betyds uitgereik nie.
VN-amptenare het gister in Thailand gewag op visums, terwyl lande soos die VSA, wat ten tyde van die tsoenami-ramp verskeie militêre skepe en helikopters vir noodleniging beskikbaar gestel het, het reeds aangedui hulle sal ook help.
Mianmar het egter nog nie amptelik om hulp gevra nie.
Na verneem word, is dít ook die probleem waarmee die Suid-Afrikaanse departement van buitelandse sake sit: Hy kan nie hulp aanbied as die betrokke land nie daarvoor vra nie.
’n Verteenwoordiger van Mianmar se ambassade in Pretoria sal nou genooi word om buitelandse sake toe te spreek oor wat presies nodig is om die land te help.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |