|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Daar is ‘nog hoop vir Skerpioene’
04/05/2008 09:59:16 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Op die vooraand van die bekendmaking van die Khampepe-verslag glo die DA die stryd om die ontbinding van die Skerpioene te keer, is nog nie verlore nie.
City Press het gister berig regter Sisi Khampepe het bevind dat die direktoraat vir spesiale operasies, soos die Skerpioene amptelik bekend staan, as ’n instelling buite die polisie behoue moet bly. Die DA gaan nou weer vra dat die wetgewende proses om die Skerpioene te ontbind, opgeskort word.
Wetgewing wat die ontbinding van die Skerpioene tot gevolg sal hê, word vandeesweek in die parlement ter tafel gelê. Die kabinet het die wetgewing verlede week goedgekeur.
Volgens mnr. Ian Davidson, DA-hoofsweep, sal die bekendmaking vandag van die twee jaar oue Khampepe-verslag deurslaggewend wees in sy party se veldtog om die Skerpioene te red. “Dit sal ons die geleentheid gee om vertroud te raak met die fyner besonderhede van die verslag,” het hy gesê.
Davidson meen die ANC is verdeel oor die opname van die Skerpioene in die polisie. “Daar’s binne dié verdeeldheid ’n geleentheid vir die publiek om ’n sê te hê in hoe die nuwe eenheid uiteindelik sal lyk.”
Volgens Davidson kan die publiek deur middel van ’n openbare debat aan die regering verduidelik hoekom dit belangrik is om die samestelling van die eenheid soos hy nou bestaan, te behou.
“ ’n Deel van die ANC is duidelik nie bewus van hoe sterk gekant lede van die publiek is teen die ontbinding van die Skerpioene nie. As ons dit duidelik kan stel waarom dit belangrik is dat die Skerpioene moet bly, dan sal die regerende party dalk gehoor gee.”
Davidson hoop dié debat sal ’n agterdeur vir die ANC ooplaat om die goeie eienskappe van die Skerpioene te behou. “Sodat die eenheid wat ná die wetgewende proses te voorskyn sal kom, anders, maar tog dieselfde as die huidige eenheid is”.
Mnr. Prince Mashele van die Instituut vir Sekerheidstudies, meen egter ’n openbare debat oor die Skerpioene sal nie die eenheid se ontbinding keer nie.
“Dit sal egter tot gevolg hê dat die ANC in die toekoms twee keer sal dink voordat hy weer besluite neem wat teen openbare sentiment indruis,” het hy gesê.
City Press het gister berig dat Khampepe in haar verslag vir pres. Thabo Mbeki gekap het omdat hy nie ingegryp het toe die spanning tussen die hoof van die Skerpioene, adv. Leonard McCarthy, en die polisiehoof, komm. Jackie Selebi, hand-uit geruk het nie.
. Die Ginwala-kommissie, wat ondersoek instel na die skorsing van adv. Vusi Pikoli, hoof van die nasionale vervolgingsgesag, is volgens Sapa bewus van die kuberkraker wat Pikoli probeer afpers.
Die kommissie gee glo aandag aan die voorval. ’n Kuberkraker beweer hy het toegang gekry tot Pikoli se persoonlike rekenaar en hy sal sy dokumente aan die media bekend maak as hy nie betaal word nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |