|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Videospeletjie wek kommer
01/05/2008 10:17:01 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Groot kommer heers oor die uitwerking van videospeletjies en geweld in die media op kinders, veral ná onlangse berigte oor kinders wat gewelddadig optree wanneer hulle hul superhelde na-aap.
Dít is te midde van die bekendstelling vandeesweek van die nuutste videospeletjie in die reeks Grand Theft Auto (GTA), GTA IV.
Dié speletjie is een van die langs verwagte videospeletjies tot nog toe. Dit word reeds bestempel as onder meer die “speletjie van die jaar” en “byna perfek,” berig Fanie van Rooyen.
BBC News het vandeesweek op sy webtuiste berig dié speletjie, vir die PlayStation 3- en Xbox 360-konsole, is reeds voor sy beskikbaarstelling deur verskeie resensente as ’n baanbreker in speletjie-tegnologie bestempel.
GTA IV het ’n ouderdomsbeperking van “18” in Suid-Afrika en Brittanje en “Mature” in die VSA.
Die GTA-reeks het onder kritiek deurgeloop omdat ’n mens, as speletjie-karakter, onder meer motors kan steel, banke beroof en verwoesting in ’n stad kan saai.
Gun Free SA in die Wes-Kaap het by monde van vader John Oliver gesê speletjies soos dié “ruk handuit” en “moet van die samelewing verwyder word”.
Volgens Oliver moet die verkoop van sulke videospeletjies strenger gereguleer word indien dit nie van die rak af gehaal word nie.
Prof. Sebastian van As, president van die Kinderongelukvoorkomingstigting van Suider-Afrika, en dr. Verushka Ramanjam, ’n konsultant-neuro-ontwikkelingspediater, het onlangs ’n studie gedoen getiteld “Kinders, Geweld en die Media”. Luidens dié studie het die Openbare Gesondheidsgemeenskap in die VSA gesê daar is sowat 1 000 studies wat ’n verbintenis tussen mediageweld (TV, flieks, videospeletjies) en aggressiewe gedrag in sommige kinders aandui.
“Dit is alombekend dat kinders leer van wat hulle sien en hoor. Dít blyk al in die eerste jaar van ’n kind se lewe wanneer babas gewuif en handeklap namaak,” het van As en Ramanjam opgemerk.
Luidens die Amerikaanse verklaring kan die sien van geweld kinders minder sensitief daarvoor maak. Van As en Ramanjam sluit hierby aan. Wanneer kinders aan gewelddadige rolspel deelneem, is dit dikwels omdat hulle iets wat hulle self ervaar het of deur die media aan blootgestel is, naboots.
Hulle stel voor dat die media optree “om die doellose verering van geweld stop te sit”.
“Ons kan ons kinders nie met gewelddadige flieks vermaak en dan ook voorgee dat ons ’n misdaad-vrye gemeenskap wil hê nie.”
Die Britse Byron-studie, wat in Mei uitgereik is, is meer gedemp. Daarin word aanbeveel “dat ons beweeg van ’n bespreking oor die media wat skade ‘aanrig’ na een wat op kinders en jongmense fokus”.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |