|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Geweldadige videospeletjie verkoop gou uit
01/05/2008 12:08:17 PM - (SA)
Die gewelddadige videospeletjie Grand Theft Auto (GTA) IV verkoop ook in Suid-Afrika soos soetkoek.
Resensente het dié speletjie al as ’n “meesterstuk” beskryf.
Die speletjie, wat landwyd beskikbaar is vir die PlayStation 3- en Xbox 360-stelsels, is eergister wêreldwyd bekend gestel.
Mnr. James Oliver, bestuurder van verkope by Megarom, die maatskappy wat GTA IV vir die Xbox 360 in Suid-Afrika versprei, het gister gesê hul voorraad is byna uitgeput. “Ons het aanvanklik 6 000 eksemplare vir die eerste dag van verkope bestel. Teen gister was 90% van dié uitverkoop.”
Die meeste spesialis-rekenaar- en videospeletjiewinkels het eergister reeds ekstra voorraad van GTA IV by Megarom bestel.
“Baie van die groter winkels, soos byvoorbeeld die CNA-tak in Sandton, se aanvanklike voorraad is binne ’n uur vandat die winkel Dinsdagoggend sy deure oopgemaak het, uitverkoop,” het Oliver gesê.
“Verskeie winkels het hul deure om middernag oopgemaak – spesiaal vir die vrystelling van GTA IV.
“Ons het nóg voorraad bestel wat volgende week in die land sal aankom – maar 50% van dié is ook al verkoop.
“Die vraag na dié videospeletjie is absoluut ongelooflik.”
GTA IV se vinnige verkope geskied ten spyte daarvan dat Suid-Afrika se rolprent-en-publikasieraad (FPB) aan dié speletjie ’n ouderdomsbeperking van 18 toegeken het.
Die GTA-reeks is in die verlede erg gekritiseer weens die skynbare verheerliking van geweld daarin.
“Van wat ek al gehoor het, bevat GTA IV basies dieselfde vlakke van geweld as vorige GTA-titels. Dit is maar effens rof en ouers moet liefs die ouderdomsbeperking in gedagte hou,” het Oliver gesê.
GTA IV word deur Reuters bestempel as ’n “wreedaardige en satiriese meesterstuk gelykstaande aan kultusflieks soos The Godfather”.
In GTA IV moet jy, as die speletjie-karakter Niko Bellic wat betrokke is by ’n misdaadsindikaat, met dwelms smokkel, banke roof, op die polisie skiet en motors steel.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |