|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Mev. Najwa Petersen het gister reaksie in die hof ontlok met dié rooi-en-wit uitrusting. Hier konsulteer sy met haar regsverteenwoordigers. Adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC, haar advokaat, sit op die voorgrond. Foto: LULAMA ZENZILE
Nuus
Najwa ‘wissel R100 000-tjek’
25/04/2008 08:49:59 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Drie dae ná die moord op Taliep Petersen het sy vrou ’n tjek van R100 000 laat wissel.
Mev. Fatima Achmat, ’n vriendin van mev. Najwa Petersen met wie sy ook sake gedoen het, het gister dié getuienis gelewer en bygevoeg dat mev. Petersen haar later gevra het of daar ooit enige navrae oor dié onttrekking was.
Achmat se broer het die tjek namens Petersen gewissel omdat Petersen volgens Moslem-geloof nie haar huis tydens Eida (tyd van rou) ná haar man se dood kon verlaat nie.
Die geld is op Dinsdag 19 Desember 2006 uitbetaal.
Die twee vroue was sowat ’n week daarna weer in kontak. “Sy (Petersen) het my gevra of iemand my uitgevra het oor die geld. Sy’t aan my gesê ek moet sê dit is geld wat ek by haar geleen het.”
Op ’n vraag van die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, of dit wel die geval was, het sy “nee” geantwoord.
Sy het verder getuig dat mev. Petersen aan haar verduidelik het mense leen gedurig geld by haar en sy wou nie hê mense moes weet dat sy sulke bedrae geld gehad het nie.
Adv. Klaus von Lieres und Wilkau SC, vir mev. Petersen, het aan die hof gesê hy betwis nie dat sy (Petersen) op 19 Desember 2006 ’n tjek vir dié bedrag laat wissel het nie.
Intussen is hofverrigtinge gister vir langer as ’n week uitgestel, nadat Von Lieres und Wilkau kapsie gemaak het teen die toelaatbaarheid van ’n staatsgetuie en “vertroueling” van Taliep Petersen.
Die staat wou gister getuienis lei oor wat dié musieklegende die laaste maande voor sy dood met sy suster, mev. Tagmeeda Johnson, bespreek het.
Die staat het ’n aansoek voor regter Siraj Desai gebring dat Johnson se getuienis aangehoor moet word aangesien sy meer lig sal werp op onder meer die huwelik van haar oorlede broer en Petersen.
Adv. Shareen Riley, vir die staat, het gesê Johnson was ’n goeie vertroueling van Taliep.
“Mev. Johnson se getuienis is relevant tot mev. Petersen se motief.”
Riley het bygevoeg dat Johnson ook meer sal kan uitwei oor die stand van die egpaar se geldsake, sowel as ’n messteek-voorval in April 2006 toe mev. Petersen Taliep glo met ’n mes in die nek gesteek het terwyl hy geslaap het. “Hoewel die motief nie ’n element in moord is nie, is dit hoogs relevant.”
Von Lieres und Wilkau voer egter aan Johnson se getuienis is nie relevant tot die aanklagte waarop mev. Petersen teregstaan nie. Die aanklagte sluit moord en roof in.
“Sy (Petersen) het ’n basiese konstitusionele reg op ’n billike verhoor.
“As die getuienis van die maker (Taliep) van dít wat die derde persoon (Johnson) aan die hof voordra nie getoets kan word in kruisverhoor nie, kan dit basies onbillik inwerk teen ’n beskuldigde en hom sy reg op ’n billike verhoor ontneem.”
Hy voer aan Johnson se getuienis sal nie in die belang van geregtigheid wees nie.
Desai het die saak tot 5 Mei uitgestel.
|
|||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |