|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Hof hoor hoe Taliep geskiet is
25/04/2008 01:27:26 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Mev. Najwa Petersen was glo getraumatiseer en bang vir haar man wat haar emosioneel mishandel en fisiek aangerand het.
“Sy sal ons regsien met geld. Die aand van 16 Desember 2006 mag die enigste kans wees om ontslae te raak van hom.”
Dié woorde vorm ook deel van ’n verklaring van mnr. Waheed Hassen. Hy het gister aangevoer hy wil nou skuldig pleit.
Luidens dié lywige verklaring het Petersen die hek en deur van die egpaar se dubbelverdiepingwoning in Athlone dié aand vir hom (Hassen) en mnr. Jefferson Snyders oopgelos.
“Nadat ons die huis binnegegaan het, het ons op ons tone by die trappe op gehardloop waar hy (Taliep Petersen) alleen gesit en krieket kyk het.
“Ek het in ’n hees stem vir hom gesê: ‘Staan op, hande in die lug, ons is hier om jou te roof. Waar is die kluis?’
“Sy hande was in die lug en hy het vyf keer gesê: ‘Allahu Akbar’ (God is groot).”
Petersen het haar volgens die verklaring kort hierna by die twee mans aangesluit.
“Ek en Jeff (Snyders) het hom (Taliep) nog by sy arms gehou omdat hy nie wou (ingee) nie.” Hulle het ook sy voete vasgebind.
Petersen wou Taliep hierna omhels.
“Jeff het hom geskop en hy het op die geteëlde vloer geval. Die bloed het uit sy mond en neus gestroom.
“Maar hy wou nie ophou beweeg nie; so, toe sit ek met my knieë op sy rug, terwyl Jeff en die vrou sy voete vasgebind het.”
Hy het vir Snyders gevra om by Taliep te bly terwyl hy Petersen aan die arm gevat het en vir die geld gevra het.
“Ek het in die kamer die klein meisie (die egpaar se dogter, Zaynab) sien slaap. Najwa het my ’n banksak met die geld gegee en gesê ek moet hom nou ‘klaarmaak’. Dit was R27 000.”
Volgens hom het hy haar hierna herinner dat dit ’n rooftog was en dat hy waardevolle besittings uit die huis moes neem.
Hy en Petersen is hierna na haar seun, mnr. Achmat Gamieldien, se kamer waar Hassen hom en sy vrou, Insaaf, beroof het. Hy het hulle toe in die kamer toegesluit.
“Najwa het aan my gesê: ‘Julle moet hom skiet, julle moet hom skiet.’
“Ek het na die ander kamer geloop op soek na goed om te vat, maar sy het my na Boeta Taliep gelei.
“Ek het ’n kussing gaan haal vir haar om hom mee te skiet. Ek het op dié oomblik vir Jeff op sy knieë gesien. Hy het oor Boeta Taliep se gesig gestreel. Al wat ek kon hoor, was hy wat sê: ‘Srau Tlaaha Il’lal’ Saah Moegamadoe Raasoelola’ (Daar is geen God behalwe Allah nie. Mohamed is sy geliefste profeet).”
Dit is hier waar Petersen volgens hom die sneller getrek het. “Ek het inmekaar gesak, soos ’n toneel uit ’n fliek . Ek het geweet ek moes wegkom . Ek het die kussing laat val. Ek het haar in ’n kamer gedruk waar die klein dogtertjie vroeër geslaap het, die deur gesluit, en vinnig verby hom (Taliep) gehardloop.”
|
|||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |