|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Zille dreig ‘moordbende’
21/04/2008 09:27:49 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Me. Helen Zille, DA-leier en Kaapstad se burgemeester, het gister haar aanvalle op die Erasmus-kommissie van ondersoek na beweerde spioenasie in onder meer Kaapstad voortgesit en gedreig om die kommissie tot in die konstitusionele hof te beveg.
Sy het regter Nathan Erasmus trouens voor die Kaapse Persklub daarvan beskuldig dat hy die grondwetlik gewaarborgde onafhanklikheid van die regbank met sy optrede ondermyn, en die onpartydigheid van die kommissie in twyfel getrek.
Zille het haar stelling herhaal dat Erasmus homself polities laat misbruik, en meen die kommissie is ’n politieke moordbende van die ANC, waarvan sy enkele lede se name genoem het.
Hulle is mnre. Kent Morkel, LPP wat van die DA na die ANC oorgeloop het, Badih Chaaban, NPP-leier teen wie die ANC-beheerde provinsiale regering nie optree nie, al het die Kaapse stadsraad gevra hy moet geskors word, Sheval Arendse, ’n DA-raadslid vir Tafelsig wat uit die koukus geskors is, en Anwar Isaacs, voormalige werknemer van die stadsraad.
Volgens Zille is sy en die DA in hierdie mense se visier, met die kommissie as instrument, wat deur die ANC en spesifiek deur premier Ebrahim Rasool geskep is met die oog op volgende jaar se verkiesing.
“Maak geen fout nie; hulle het my in hul visier,” het sy aangevoer, en die wettigheid en grondwetlikheid van die Erasmus-kommissie bevraagteken.
Zille meen al vier gaan toegelaat word om onwaar gerugte voor die kommissie te versprei, wat dan skade aan die DA sal aanrig sonder dat veel bewys word, soos sy meen met die Desai-kommissie van ondersoek na beweerde skenkings aan die DA deur die Duitse swendelaar Jürgen Harksen gebeur het.
Volgens Zille was dít ook ’n politieke moordbende teen die DA, en sy het spesifiek daarop gewys dat Harksen met sy vrylating verlede maand uit ’n Duitse tronk beweer het hy het R500 000 aan die ANC gegee – vyf keer meer as sy beweerde destydse skenking aan die DA.
Wat die Erasmus-kommissie betref, het Zille gesê ’n polisie-ondersoek van maande lank kon niks oplewer nie. Indien enigiemand enige getuienis teen haar het, het sy hulle uitgedaag om ’n hofsaak in ’n ope hof teen haar of die stad Kaapstad te begin.
Sy het ook daarop gewys dat die sekretaris van die kommissie die broer is van die SAUK-hoof in Kaapstad, wat sy van ANC-gesinde selektiwiteit beskuldig.
Sy het die gesukkel voordat Erasmus ingewillig het om die kommissie verlede week hangende ’n hofsaak te verdaag, uitgewys as ’n beweerde bewys van sy onwilligheid om onpartydig te wees.
Zille meen ook die kommissie sal soos ’n kraan wees wat gif drup, en dat dit ’n inbreuk op grondwetlikheid verteenwoordig wat Suid-Afrika in die rigting van Zimbabwe kan laat dryf.
Dit is na haar mening haar en die DA se plig om die kommissie dus teen te staan.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |