|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Misdaad daal in Kaapse middestad
21/04/2008 09:01:05 AM - (SA)
KAAPSTAD. – Die volgehoue bekamping van kleiner misdade in die middestad het gelei tot ’n afname in misdaad.
Luidens ’n verklaring van die Sentrale stadsverbeteringsgebied (SSVG) was daar ’n afname in misdaad vir die twaalf maande tot einde Maart in vergelyking met die vorige twaalf maande.
Luidens statistiek van die SSVG was 70% van die 732 inhegtenisnemings vir die jaar tot einde Maart 2008 vir kleiner misdade.
In die jaar-tydperk was daar 3 718 voorkomende optredes waartydens 2 100 vermeende misdadigers verwyder is, 980 waarskuwings uitgereik is en 269 lede van die publiek bygestaan is.
Mnr. Muneeb Hendricks, sekuriteitsbestuurder van die SSVG, het gesê ernstige misdade word bekamp omdat kleiner misdade nie meer geduld word nie.
“Met misdaad lei die een tot die ander. Deur misdadigers te verwyder wat kleiner misdade pleeg, word verhoed dat misdaad toeneem,” het Hendricks gesê.
Hy het groot lof gehad vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens en gesê 130 reserviste is ontplooi in van die misdaadbrandpunte soos die Parade, die stasie, Adderleystraat en St. George-wandellaan. Daar is ook mobiele kiosks wat dien as klein aanklagsentrums. Lede wat die kiosks beman, werk nou saam met die spanne van die SSVG wat voetpatrollies doen.
Mnr. J.P. Smith, voorsitter van die stadsraad se komitee oor veiligheid en sekuriteit, het gesê die bykomende heffings wat verkry word van eienaars van eiendom, word gebruik om die sekuriteit te verhoog en die gebied op te ruim. Die stad en die SAPD het ook saamgespan om veral te fokus op die stasie, wat ’n groot bron van misdaad in die gebied is.
“Daar was so veel as tien tot veertien aanrandings per dag in die omgewing van die stasie. Nou het dit afgeneem na so min as twee aanrandings in ’n tydperk van twee weke,” het Smith gesê.
Een van die optredes was om die 280 onwettige smouse uit die gebied te verwyder. Altesaam 80 wettige smouse word nou toegelaat.
Smith het gesê daar word gedurig gewaak teen nuwe tendense. Wanneer misdadigers minder toeslaan op voetgangers, kan misdade by besighede weer toeneem.
So was die toenemende aantal buitelandse vlugtelinge wat voor die vlugteling-ontvangskantoor by die ingang na die hawe saamdrom, ’n groeiende probleem. Vlugtelinge word nou twee maal per dag met busse na binnelandse sake in Barrackstraat vervoer. Die optelpunt gaan ook nou verskuif word om die gebied se sekuriteit te verbeter.
Volgens Smith is die verbetering van die stad se sekuriteit te danke aan die samewerking tussen rolspelers soos die SAPD, die metro-polisie, SSVG en verkeerspolisie.
Me. Mariette du Toit-Helmbold, hoof van Kaapstad Toerisme, het gesê dié organisasie is dit eens dat veral kleiner misdade op groot skaal binne die sentrale stadsgebied verminder is. “Kaapstad is een van die internasionale topstede waar besoekers die sentrale stadsgebied te voet kan besigtig . . . Misdaad bly steeds die grootste rede vir mense om nié Suid-Afrika as hul volgende besoekpunt te kies nie.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |