|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Me. Susan Shabangu Foto: LULAMA ZENZILE
Nuus
Roei misdaad uit, sê Shabangu
17/04/2008 10:39:29 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Alle struikelblokke wat die groei van Suid-Afrika kan kniehalter, moet uit die weg geruim word. En misdaad is een van hulle.
Só het me. Susan Shabangu, adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, gister haar standpunt oor polisiebeamptes wat op misdadigers moet skiet om hulself en wetsgehoorsame burgers te beskerm, verdedig.
Shabangu het op ’n imbizo in Mitchells Plain honderde skoolkinders en inwoners by die Hoërskool Glendale toegespreek.
Sy het die verhoog gedeel met onder andere mnr. Cameron Dugmore, provinsiale minister van onderwys, en mnr. Leonard Ramatlakane, haar provinsiale ampsgenoot.
Ná afloop van die verrigtinge het sy by navraag aangevoer dat haar stellings glad nie strydig met die land se Grondwet, die Strafproseswet of die regering se beleidsriglyne is nie.
“Ons doen ’n beroep op die polisie om deurslaggewend op te tree. Dit is ’n boodskap waaroor Suid-Afrikaners baie gelukkig is.
“Dit is egter nie net ’n boodskap nie, maar ’n duidelike riglyn aan ons polisiebeamptes dat wanneer misdaad gepleeg word – veral waar burgers se lewens bedreig word – sal ons aanhou om ons mense te mobiliseer omdat misdaad die uitdaging in ons gemeenskappe is.
“En ons moet seker maak dat misdaad uitgeroei word.”
Dit is ook die regering se beleid dat misdaad in die land nie geduld sal word nie, het Shabangu gesê.
“Ons sal alle hekkies uit die weg moet haal wat die groei van die land sal belemmer, en misdaad is een van die struikelblokke.”
Op die vraag of dit nie die deur ooplaat vir korrupte beamptes om ongehinderd voort te gaan nie, het sy ferm geantwoord.
“Korrupte mense sal in elk geval altyd verkeerd bly optree. So, ons stuur nie die verkeerde boodskap uit nie.
“Ons praat hier met wetsgehoorsame polisiebeamptes en burgers in ons land.”
Sy het gesê art. 49 (2) van die Strafproseswet, wat beamptes bemagtig om hulself en wetsgehoorsame burgers te beskerm, is in die verlede reeds duidelik deur die konstitusionele hof uiteengesit.
“Ons is terug na lede om hulle presies te sê wat hul regte is en wat van hulle verlang word wanneer lewens bedreig word.”
Intussen het mnr. Themba Maseko, regeringswoordvoerder, gesê die regering se standpunt is dat alle optrede deur die polisie binne die land se wette moet geskied.
“Sy poog net om te verseker dat daar groter duidelikheid by polisiebeamptes op grondvlak is oor onder watter omstandighede hulle wettige geweld mag gebruik.
“Indien daar gevalle sou opduik waar polisielede buite die landswette opgetree het, is daar altyd die onafhanklike klagtedirektoraat waar hulle verkla kan word.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |