|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Erasmus-kommissie peperduur
17/04/2008 10:38:40 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Met rye hofbanke wat dié week blink gesit is deur van die mees senior advokate en prokureurs in die Wes-Kaap, het die regskoste van die Erasmus-kommissie in slegs drie dae meer as R1,1 miljoen beloop.
Nie net was spanne regsverteenwoordigers nodig vir die sitting van die kommissie nie, maar daar is ook drie dringende interdik-aansoeke voor die Kaapse hooggeregshof gebring om die kommissie tydelik te keer.
Die stad Kaapstad, die George-munisipaliteit, die Erasmus-kommissie, private speurders van George Fivaz en Genote, mnr. Badih Chaaban, die DA, die burgemeester, speaker en raadslede van die stad, die stadsbestuurder en nog amptenare, asook die Wes-Kaapse premier en die provinsiale minister van plaaslike regering en behuising word deur swaargewig-regspanne verteenwoordig.
Die kommissarisse is regter Nathan Erasmus, mnr. George Papadakis, ’n forensiese ouditeur, en me. Herdie Vermeulen, ’n kenner van plaaslike regering.
Nog lede van die kommissie is mnr. Frans Petersen van KPMG, wat die getuienis lei, mnr. Zithulele Twala van Cliffe Dekker Ingelyf en me. Cezanne Britain-Renecke, ook van Cliffe Dekker.
’n Regskenner het uitgewys die regspanne moes ook ure deur die nag werk aan hofstukke vir die dringende aansoeke wat Woensdag voor regter Hennie Erasmus ingedien is.
Die gemiddelde regskoste per dag vir ’n senior advokaat is tussen R15 000 en R17 000 (maar tot R30 000), en vir ’n junior advokaat tussen R10 000 en R12 000. ’n Senior prokureur word tussen R1 500 en R1 800 per uur betaal en ’n junior prokureur tussen R1 000 en R1 200.
“Ek het nog nooit in my hele lewe so iets gesien nie,” het ’n regsverteenwoordiger wat ook betrokke was by die Goldstone-, Harmse- en Desai-kommissie, gesê oor die groot groep senior advokate wat betrokke is.
Dié uitgawes sluit die aansoek uit wat die speaker van die stad Kaapstad, mnr. Dirk Smit, voor die Kaapstadse hooggeregshof gebring het om die wettigheid van die kommissie te bepaal.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |