|
|||||||||||
|
![]() Me. Susan Shabango Foto: LEANNE STANDER
Nuus
Moenie met polisie speel, sê Shabangu aan jonges
17/04/2008 08:11:24 AM - (SA)
STRAND. – Die adjunkminister van veiligheid en sekuriteit het gister op ’n imbizo hier in Nomzamo weer van die heup af geskiet.
Die polisie word wapens gegee om te gebruik, het me. Susan Shabangu in die gemeenskapsaal gesê aan ’n gehoor wat grotendeels uit leerders uit townships bestaan het. “Dit is nie speelgoed nie. As jy ’n wapen op ’n lid van die polisie rig, sál dié jou skiet. As jy ’n speelgoedgeweer het en jy rig dit op ’n polisielid, sal die polisielid nie weet dis ’n speelgoedgeweer nie. Jy sal sterf. So, moenie met vuur speel nie.”
Die polisie moenie apologeties wees nie, het Shabango opgemerk. Hulle moet skiet op misdadigers wat die polisie en wetsgehoorsame burgers uitdaag. Hulle moet skiet op misdadigers wat wapens op die polisie rig.
Sy is nie bekommerd oor die teenreaksie ná haar uitlatings op ’n onlangse imbizo (in Pretoria-Wes) nie, het Shabangu bygevoeg toe sy buite die saal deur die media oorval is. Haar stelling tóé dat polisielede misdadigers moet doodskiet as hul lewe bedreig word, het haar sowel veroordeling as lof besorg.
Verlede jaar is 81 polisiebeamptes doodgemaak, het sy gesê. Kinders sonder pa en die pyn van diegene wat ná die tyd na haar toe kom, is haar grootste bekommernis.
As iemand se lewe met ’n wapen bedreig word, moet daar met gelyke munt betaal word. “Daar gaan nie ’n kompromis wees nie.”
Polisiebeamptes lê ’n eed af dat hulle misdaad sal beveg en mense sal beskerm. Dit is binne die wet. As die polisie of lede van die gemeenskap bedreig word, moet hulle hulself verdedig en kan hulle kragdadig optree, het Shabangu gesê en na ’n uitspraak van die konstitusionele hof verwys.
Vroeër het sy benadruk dat die land nie deur ’n paar individue beheer kan word nie. Dit was nadat skoolkinders en volwassenes ná ’n aanvanklik trae begin tougestaan het om vrae aan haar en die Wes-Kaapse polisiehoof, komm. Mzwandile Petros, te stel.
Sy het gesê dit is die werk van die polisie om wetsgehoorsame burgers te beskerm. As dit beteken daar moet geskiet word, dan moet daar geskiet word, het sy onder luide applous gesê. So nie, kan dit gebeur dat wetsgehoorsame burgers eie reg gebruik.
Daar is ’n boodskap wat hulle nie gaan verander nie, het sy bygevoeg. Hulle gaan nie toelaat dat die polisie afgemaai word asof hulle nie ouers is nie, asof hulle nie mense is nie. “Hulle moet hul lewe tot elke prys beskerm.”
Mnr. Jacob Zuma, president van die ANC, het gesê sy party, sowel as die minister van veiligheid en sekuriteit, mnr. Charles Nqakula, steun die standpunt dat polisielede misdadigers moet doodskiet “indien hul lewens of dié van die publiek in gevaar is”, berig Abigail Isaacs.
Hy het egter gemaan dat polisielede binne die reg moet optree. “As die regerende party kan ons nie ’n kultuur van skietlustige polisielede goedkeur nie.”
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |