|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Zuma steun Shabangu se skiet-uitsprake
13/04/2008 11:53:35 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Mnr. Jacob Zuma, ANC-president, het oënskynlik sy steun toegesê aan me. Susan Shabangu se standpunt dat die polisie moet skiet om dood te skiet.
Shabangu, adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, het verlede week tydens ’n byeenkoms in Pretoria gesê dat polisielede misdadigers moet doodskiet as hulle die polisie se lewens bedreig.
Sapa berig dat Zuma Vrydagaand in Durban oor Shabangu se uitlating gesê het: “As jy ’n adjunkminister het wat die tipe goed gesê het wat die adjunkminister gesê het, is dit was ons moet (sien) gebeur.”
Hy het by dieselfde geleentheid gesê debat moet gevoer word oor die kwessie van borgtog vir verdagtes van moord en verkragting.
Me. Jessie Duarte, ANC-woordvoerder, kon nie gister bevestig dat Zuma wel vir Shabangu steun nie. Sy was nie by Vrydagaand se geleentheid teenwoordig nie.
“Waaroor hy egter altyd konsekwent is, is dat die wet moet byt – dat dit die onskuldiges moet beskerm en nie net die misdadigers nie.”
Sy het onderneem om Zuma vandag hieroor uit te vra by die vergadering van die ANC se nasionale werkkomitee.
Prof. Susan Booysen van die Universiteit van die Witwatersrand het by navraag gesê die ANC het nog altyd sterk standpunt teen misdaad ingeneem.
“Hoe dit egter toegepas en gebalanseer word met menseregte, is ’n ander saak.”
Gevra watter boodskap die uitsprake oor misdaad uit ANC-geledere na buite stuur, het Booysen gesê uit die sterk standpunte en uitgesprokenheid kan ’n mens verwag dat die kwessie in ’n rigting gestuur gaan word.
“Die gemeenskap is baie sterk uitgesproke oor misdaadkwessies. Dit is moontlik dat ANC kiesers hiermee wil probeer oorwen of bestaande steun wil versterk. Daar is gemeenskapsdruk op die ANC weens die hoë misdaadsyfer.”
Me. Amanda Dissel van die Sentrum vir die Studie oor Geweld en Versoening meen wat nodig is, is sterker optrede teen misdaad in die vorm van beter polisiëring.
“Misdaad is iets wat aangepak moet word met ’n reeks faktore – soos polisiëring, maatskaplike ontwikkeling en ekonomiese geleenthede.”
Volgens Dissel is dit verkeerd om net op misdadigers te skiet.
“Hulle kan die verkeerde mense wees waarop geskiet word. Daar behoort eers ’n ondersoek te wees.”
Artikel 49 van die Strafproseswet maak voorsiening vir spesieke gevalle onder sekere omstandighede waar die polisie op misdadigers mag skiet.
“Wat ons van die regering nodig het, is beter polisiëring en ware besinning oor die kwessies wat tot misdadigheid aanleiding gee.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |