|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
‘Maak misdadigers wat lewens bedreig, dood!’
11/04/2008 08:18:31 AM - (SA)
Me. Susan Shabangu, adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, het gister in Elandspoort, wes van Pretoria, gesê inwoners moet misdadigers – veral dié wat lewens in gevaar stel – “doodmaak”.
Shabangu het gepraat by ’n imbizo wat gehou is by die Hoërskool Elandspoort in Danville.
Shabangu het, nadat die media haar om meer duidelikheid oor dié stelling gevra het, verduidelik dat Suid-Afrikaners strenger teenoor misdadigers moet optree en hulle nie kans moet gee om hulle op onskuldige mense toe te spits nie.
“Die polisie kan nie rustig met misdadigers praat wat op hulle skiet nie, of wag dat ’n polisielid doodgaan voordat hulle reageer nie,” het sy gesê.
Verskeie lede van die gemeenskappe van Danville, Hercules, Atteridgeville en Pretoria-Wes het gister ook kans gekry om hul ongelukkigheid en probleme regstreeks aan polisie- en regeringsbeamptes te stel.
Besonderhede oor klagtes in die gemeenskap is by die imbizo geneem en van die sake – wat gewissel het van probleme met behuising, toegang vir gestremdes en dienslewering deur die polisie – het aandag gekry.
Mnr. Christo De Villiers, ’n inwoner van Hercules, het gesê die imbizo was ’n goeie idee.
“Dit is goed dat mense persoonlik met die polisie kan praat en hulle probleme kan stel. Dit maak ’n verskil as jy met iemand persoonlik kan kommunikeer,” het hy gesê.
De Villiers het sowat agt maande gelede ’n private veiligheidsmaatskappy gestig wat nou met behulp van die polisie belangrike misdaadvoorkomingswerk in Hercules doen.
De Villiers het gesê vandat hy die polisie persoonlik kontak, kry hulle baie meer uitgerig.
“Die manne weet ek kontak hulle nie vir ’n dronkie op die pad nie. Dit is voorvalle waarop hulle dringend moet reageer,” het hy gesê.
De Villiers het ook lede van dié gemeenskappe gevra om die polisie te respekteer, aangesien die polisie se diens sodoende sal verbeter. Hy het voorts gesê die twee grootste probleme is die tekort aan polisievoertuie by sekere stasies en beligting in sekere areas.
“Jy sal oplet dat waar dit donker is, ook meer misdaad gepleeg word,” het hy gesê. De Villiers het die regering gevra om beligting in dié areas te verbeter.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |