|
|||||||||||
|
Nuus
KOMMENTAAR: Die wit en swart van bruin-wees
02/04/2008 12:16:44 PM - (SA)
Heindrich Wyngaard neem mnr. Tokyo Sexwale se verwysing na sy kinders as ‘bruin’ in oënskou.
’N MENS wonder of mnr. Tokyo Sexwale besef het presies wat hy doen toe hy sy kinders die afgelope naweek as “bruin” verklaar het.
Dit was op die wynplaas Lourensford by Somerset-Wes waar mnr. Jacob Zuma, die ANC-leier, ’n ontbytgesprek gevoer het met ’n groep “prominente Wes-Kaapse Afrikaanssprekendes”.
Sexwale het geantwoord op mnr. Peter Marais se vraag aan Zuma of die ANC hom as bruin mens ook as “swart” beskou, want bruines voel maar steeds uitgesluit by onder meer regstellende aksie. Dié Wes-Kaapse oudpremier se vraag is aangevuur deur die rassistiese uitbarsting van mnr. Mike Stofile toe hy die vorige dag die presidentsverkiesing van SA Rugby verloor het.
Wat Stofile betref, toon die herverkiesing van (die bruin) mnr. Oregan Hoskins dat in Suid-Afrikaanse rugby kwansuis nie plek vir “swart mense” is nie. Maar die einste Stofile het saam in die koor gesing dat mnr. Peter de Villiers, wat in die ou dae ook as “bruin mens” geklassifiseer was, die land se eerste “swart” Springbokafrigter is.
En hy het klaarblyklik nog nie gehoor dat Hoskins homself as “swart” definieer nie.
Nou kom Sexwale, swartbemagtigingsmagnaat en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, en sê: “Ek het my nie by die ANC aangesluit sodat my kinders nie president kan word nie.”
Asof hy wou seker maak dat almal hom goed verstaan, voeg hy toe by: of dat sy “Coloured children” (om sy presiese woorde aan te haal) hulle aan die verkeerde kant van regstellende aksie sal bevind nie.
’n Briefskrywer merk gister op die indruk wat ’n mens uit Sexwale se opmerkings kry, is dat hy meen sy kinders uit die ná-apartheid-generasie behoort ook uit regstellende aksie voordeel te trek.
Dit is ’n belangrike observasie.
Maar ek wil my hier bepaal by die feit dat sy kinders glad nie toevallig nie die kinders is van ’n oudpremier van Gauteng en ’n skatryk sakeman, wat nog net Saterdagoggend gespog het met die wynplase wat sy maatskappy, Mvelaphanda Holdings, pas in die omgewing van Somerset-Wes gekoop het.
Die vraag wat Sexwale se “klassifisering” van sy kinders onwillekeurig na vore bring, is die nou reeds holruggeryde: Wie of wat is ’n “bruin mens” of ’n “Kleurling”, soos sommige nog verkies om te sê?
Moet jy “bruin” ouers hê, of een bruin en die ander wit of swart? Moet jy van slawe-afkoms wees of net seker maak dat jy erkenning gee aan jou Khoi- en San-voorgeslagte?
Of beteken dit dat jy gewoon ook uit ’n swart-wit gemengde huwelik gebore kan wees – iets waarop Sexwale nou namens sy kinders aanspraak maak?
Die meeste meningsvormers wat hulle met die bruin kwessie bemoei, sal onmiddellik wys op die sosiaal-maatskaplike situasie waaronder die meeste “bruin mense” reeds lank gebuk gaan: armoede, werkloosheid, bende-aktiwiteite en dwelmmisbruik. ’n Mens kan jou daarom beswaarlik indink dat Sexwale se kinders hulself as deel van hierdie “sub-kultuur” sal beskou of begrip daarvoor sal hê.
Dit maak uiteindelik van hulle “bruin” kinders met ’n swart of wit rykmans-ervaring – en belangriker: ’n saakmakende “swart” van.
En dít is wat ’n mens laat vermoed Sexwale se uitsprake Saterdagoggend was dalk niks meer as net politieke vertoon nie.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |