|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Beurtkrag in April in Kaap
26/03/2008 09:50:59 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Kapenaars moet hulle van Maandag af weer regmaak vir beurtkrag. ’n Beurtkragskedule vir die Wes-Kaap, wat tot 30 April van toepassing is, is gister in koerante versprei.
Gebiede in die stad Kaapstad se verspreidingsgebied sal hoogstens twee keer per week vir twee en ’n half uur sonder krag wees. Eskom-voorsieningsgebiede sal drie dae per week vir twee en ’n half uur op ’n slag geraak word.
Die skedule kan egter gewysig word indien nodig, het mnr. Charles Kadalie, die Kaapse stadsraad se bestuurder van openbare beligting, gesê.
Huishoudings, kleiner nywerheids- of handelskliënte en kliënte met ’n toegekende lyn, kan kwytgeskeld word van beurtkrag indien hulle 10% spaar op hul verbruik en die aanvraag verminder.
Kadalie het gesê met geskeduleerde beurtkrag kan die verbruiker voorberei vir wanneer die kragtoevoer onderbreek word.
“Die feit van die saak is dat Eskom ’n reserwe nodig het. Eskom het ook tyd nodig om sy instandhoudingstrategie deur te voer.”
Met die beheerde kragonderbrekings wil die stad en Eskom ’n verandering afdwing in die kultuur van hoe mense elektrisiteit gebruik, het hy bygevoeg.
“Ons het verbruikers sedert die debakel by Koeberg sowat twee jaar gelede gevra om die manier waarop hulle krag verbruik, te verander. Ons het gevind dat die meeste verbruikers steeds nie hul houding oor kragbesparing verander het nie.”
Kadalie het gesê die voorspellingskedule is nodig om ’n noodsituasie te voorkom waar ongeskeduleerde beurtkrag toegepas moet word. “Ons wil die impak op infrastruktuur wat kwesbaar is, minimaliseer sodat dit nie ’n domino-effek op die netwerk het nie.”
Volgens Kadalie het die stad probeer om die skedule so billik moontlik te maak, maar kan dit nooit perfek wees nie.
Hy het bygevoeg dat lande soos Brasilië ’n soortgelyke probleem ervaar het en dieselfde benadering gevolg het.
“Indien die verbruiker nie self krag wil bespaar nie, sal ons dit vir hom doen.
“Ons sukkel om die netwerk aan die gang te hou en wil verseker dat veiligheid en sekuriteit en mense se leefstyl nie in gedrang is nie. As elkeen sy deel doen, sal ons die wa deur die drif trek.”
Luidens die inligtingstuk in die koerant kan kliënte met ’n toegekende lyn waaroor die elektrisiteitsvoorsiener direkte beheer vanaf die beheerkamer het, kwytgeskeld word van beurtkrag indien die kliënt ’n gekontrakteerde besparing in elektrisiteitsverbruik behaal.
Kliënte wat nie individueel gekontroleer word nie, maar wat deel vorm van ’n groter groep wat vanaf dieselfde voerder gevoer word, kan kwytgeskeld word indien hulle as ’n ’n groep ’n besparing kan bewerkstellig.
Die publiek het toegang tot ’n kitslyn en webtuistes om opgedateerde inligting te bekom.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |