|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Design for Living gesink ná lekkasies
26/03/2008 09:37:25 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Organiseerders van die Design for Living-ekspo moes vir die eerste keer in 30 jaar dié ekspo noodgedwonge kanselleer.
Dít kom nadat die organiseerders, Kagiso Exhibitions & Events, vroeg in Maart ’n faks van die bestuur van Goeie Hoop-sentrum ontvang het waarin hulle in kennis gestel is dat lekplekke in die dak en die lugverkoeler in die sentrum se hoofsaal nie betyds vir die ekspo herstel sal wees nie.
Die ekspo word jaarliks vanaf 21 April tot 1 Mei gehou en lok meer as 40 000 besoekers.
Me. Annette Nortjé, die skoubestuurder, het gesê die besluit om die ekspo te kanselleer, is in die belang van die uitstallers geneem.
“Ons wil nie besoekers aan die ekspo afskrik en sodoende uitstallers geld kos nie.
“ ’n Onplesierige ekspo is ’n groter risiko.”
Nortjé het gesê die lekkasies kan veroorsaak dat stalletjies in die hoofsaal en tussenverdieping as gevolg van die reën beskadig kan word. “Dit is nie ’n besluit wat ligtelik geneem is nie. Ons het geglo dat dit nie in uitstallers se belang sal wees om in dié toestande voort te gaan nie.”
Volgens Nortjé het die faks aangedui dat die opgraderingswerk eers binne 20 weke (in Junie) voltooi sal wees. “Ons is gewaarborg dat die Goeie Hoop-sentrum vir volgende jaar se ekspo beskikbaar sal wees, maar hierdie jaar gaan daar nie ’n ekspo wees nie.”
Nortjé het gesê hulle wou die ekspo na die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) verskuif, maar ’n ander ekspo word op dieselfde naweek daar gehou.
“As ons dit later in die jaar hou, gaan dit groot finansiële gevolge inhou – nie net vir die organiseerders nie, maar ook vir die besoekers en uitstallers. Besoekers sal dan vir parkering moet betaal.”
Sy het ook gesê dit was ’n strategiese besluit om die ekspo in die Goeie Hoop-sentrum te hou omdat dit deel is van die Wes-Kaapse gemeenskap.
Nortjé het gesê van die uitstallers se geld is reeds terugbetaal. “Teen einde Maart sal al die uitstallers se geld ten volle terugbetaal wees.”
Luidens die ekspo se webwerf het die organiseerders reeds jare gelede besluit om die ekspo in die Goeie Hoop-sentrum te hou omdat die uitleg baie moontlikhede het. “Met drie klein sale, ’n groot hoofsaal en ’n podium wat ’n tussenvloer skep, is die uitstallings se moontlikhede verwisselbaar.”
Mnr. Charles Cooper, ’n woordvoerder van die Kaapse stadsraad, het gesê die organiseerders het self besluit om die ekspo te kanselleer. “Daar is probleme met die stelsel, maar organiseerders wat die Goeie Hoop-sentrum wil huur, moet self besluit of hulle wil voortgaan met die uitstalling.”
Cooper meen lekplekke in die dak en die lugverkoeler is nie probleme wat binne drie weke opgelos kan word nie. “Onderdele is bestel en moet ingevoer word. As mense die plek bespreek en hulle weet dit is nie 100% operasioneel nie, was hulle ten volle bewus van wat aan die gang is.”
Mnr. Gert Bam, direkteur van sport, ontspanning en geriewe vir die stad, het by navraag gesê hy is nie bewus van die probleme by die Goeie Hoop-sentrum nie en moet eers seker maak van sy feite voordat hy enige kommentaar kan lewer.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |