|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Mnr. Gerhard Hermann Everwyn Foto: TARRYN CARR
Nuus
’n Volle 105 jaar – en 80 in SA
26/03/2008 09:10:01 PM - (SA)
KAAPSTAD. – ’n Duitser wat al byna agt dekades in Suid-Afrika woon, vier vandag sy 105de verjaardag met ’n rustige familie-ete in die Moederstad.
Verjaardag of te nie, mnr. Gerhard Hermann Everwyn het gesê hy loop nooit ’n episode van sy gunstelingsepie mis nie. “Ek is gek oor 7de Laan en mis nooit ’n episode nie.”
Everwyn, wat oorspronklik van Bremen in die noorde van Duitsland kom, het van 1925 af drie jaar in Suid-Afrika gewerk. Hy het in dié tyd sy vrou, Mary, in Kaapstad ontmoet. Hulle het teruggekeer na Duitsland en hulle weer in 1931 in Kaapstad kom vestig.
“Ek is ’n baie positiewe mens. Ek probeer om nooit oor goed te kla wat gebeur het nie, maar om eerder op die positiewe aspekte te konsentreer,” het Everwyn gesê.
Tans woon hy in ’n eenheid by ’n tehuis vir senior burgers in Seepunt en, hoewel hy hardhorend is, geniet hy dit baie om na die nuus op die televisie te kyk en ook om te lees.
Everwyn is ’n geesdriftige familiemens en kuier gereeld by sy nasate. Hy het twee kinders, drie kleinkinders en twee agterkleinkinders met nog een op pad.
“My pa het ’n baie goeie sin vir humor en praat gereeld met die ander mense by die ouetehuis. Hy is ’n baie rustige mens en het nog nooit sy stem dik gemaak vir iemand nie,” het sy dogter, me. Inge Wessels, gesê.
Everwyn het in 1933 op Die Burger ingeteken en ontvang steeds elke dag sy koerant.
Everwyn en sy vrou was 70 jaar lank getroud. Sy is vier jaar gelede oorlede.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |