|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
SA vlieënier van bedrog aangekla
26/03/2008 09:29:39 PM - (SA)
MIDRAND. – Die Suid-Afrikaanse vlieënier wat Dinsdag in Zimbabwe in hegtenis geneem is, word nou van bedrog aangekla nadat hy glo onder iemand anders se naam in ’n hotel ingeboek was.
Mnr. Brenton Smyth (31), ’n vlieënier by ATS Helicopters by die Grand Central-lughawe in Midrand, was veronderstel om mnr. Morgan Tsvangirai, presidentskandidaat van die MDC, rond te vlieg in die aanloop tot die naweek se verkiesing, toe hy in hegtenis geneem is.
Mnr. Roy Bennett, die MDC se tesourier, het gister gesê Smyth gaan nou vervolg word nadat ’n MDC-amptenaar hom solank in die hotel ingeboek het terwyl Smyth op pad van Bulawayo na Harare was. Die klagte gaan glo daaroor dat die MDC-amptenaar ’n Zimbabwiese burger is en Smyth ’n buitelander, wat as sodanig by die hotel aangedui moet word.
Smyth is saam met mnr. Jameson Timba, ’n MDC-amptenaar, nog ’n vlieënier en ’n lughawe-amptenaar in hegtenis geneem. Laasgenoemde drie is later die dag vrygelaat terwyl Smyth aangehou is.
Afgesien van die bedrogklag kan die Zimbabwiese owerheid dit dalk ook teen Smyth hou dat sy internasionale vliegklaring om in Zimbabwe te mag vlieg Dinsdag om middernag verval het.
Smyth, wat met sy inhegtenisneming reeds vir dae gesukkel het om sy papierwerk en magtigings met die owerheid uit te klaar, was in die proses om die internasionale klaring te laat verleng.
Volgens Bennett was dit onmoontlik om die verlenging te doen terwyl hy in aanhouding was en sal ’n klag daaroor nie maklik water hou nie.
“Die prokureur wat sy saak hanteer, meen geeneen van die klagte teen hom sal in ’n hof staande bly nie.
“Ek glo hy sal môre gedeporteer word – veral noudat die Suid-Afrikaanse regering ook betrokke geraak het.”
Mnr. Ronnie Mamoepa, woordvoerder vir buitelandse sake, het gesê amptenare van die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat in Harare het Dinsdag reeds konsulêre toegang tot Smyth versoek, wat gister toegestaan is.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |