|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Die skaap Skapie en vlakvark Piggels is onafskeidbaar. Foto: CHARLES PULLEN
Nuus
Liefde blom tussen Piggels en Skapie
24/03/2008 09:45:37 PM - (SA)
KOOKHUIS. – Dié verskynsel is raar, maar tóg waar.
In die animasieprent The Lion King vertolk Timon, die uitgesproke meerkat, en Pumba, die ietwat oningeligte vlakvark, twee rolle wat handel oor vriende wat tot die dood toe maatjies sal bly, ongeag dat hulle lede van verskillende spesies is.
Nou ja, ’n soortgelyke verskynsel speel hom af op die plaas Gallantskloof naby Kookhuis.
Dié keer is dit ’n vlakvark en ’n skaap. Beste maatjies? Nee, dis hoogs onwaarskynlik . . . “Piggels en Skapie is altwee een jaar oud en kan nie sonder mekaar nie,” vertel mev. Ezelle Marais, baas van dié plaas.
Dié twee het saam-saam grootgeword. Marais sê haar twee bloedjies het Piggels in die veld gevang en gedink hy sal ’n oulike troeteldier wees.
“Hulle het hom huis toe gebring en vandag is hy steeds hier en vreeslik mak. Skapie was in daardie stadium wees en ons het hom ook self grootgemaak.”
Dié maatjies speel oor die hele werf heen en vang gereeld kattekwaad aan.
Marais sê hulle vreet ook net wat hulle wil.
“Piggels sal enigiets eet wat voor hom is. Hy eet die honde se pille, eet van die meel in die stoor en saam met Skapie steel hulle die kalwers se melk.
“Skapie eet van die lusern in die lusernland naby die huis, maar ook van die gras in die tuin en somtyds sal hy kom bedel vir melk,” vertel Marais.
Saans maak hulle spore na hul eie hok vir ’n snoesige nagrus ná ’n hele dag se manewales.
Marais sê as ’n mens dié twee skei, raak die een sommer lekker beneuk sonder die ander een.
Naasteliefde op sy beste . .
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |