|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Minste van twee kwade gesoek
24/03/2008 08:52:25 PM - (SA)
JOHANNESBURG. – Suid-Afrika se rugbybase hou einde vandeesweek ’n presidentsverkiesing in die wete dat nie een van die twee kandidate juis baie vertroue by hulle inboesem nie.
Mnr. Oregan Hoskins, president van SA Rugby, en sy adjunk, mnr. Mike Stofile, sê mekaar Vrydag in Kaapstad die stryd aan vir die reg om die volgende twee jaar die baas van plaaslike rugby se plaas te wees.
In die aanloop tot die verkiesing word die sentiment al hoe sterker uitgespreek dat die man wat die minste skade sal aanrig, waarskynlik die verkiesing gaan wen.
Die feit dat ’n derde kandidaat nie na vore getree het nie, word ook in dié kringe betreur.
Tog wil dit voorkom of Hoskins die gunsteling is. Hoewel hulle nie direk ’n sê in die verkiesing het nie, het Hoskins se onlangse uitlatings aanklank by beroepspelers gevind.
“Ek sien Oregan het oor die naweek ’n paar interessante dinge oor die Springbok-embleem en keuses op verdienste gesê,” sê die uitvoerende hoof van die spelersvereniging (Sarpa), mnr. Piet Heymans.
“Hy het gesê hy is ten gunste van die behoud van die Springbok-embleem en dat spanne op verdienste gekies moet word. Dit klink goed en sal seker by die spelers ’n paar punte werd wees.”
Albei dié kwessies kan Suid-Afrikaners se bloed laat kook en die kandidate het as deel van hul verkiesingsbeloftes hulle reeds aan die kant van gewilde sienings geskaar.
Die Burger het betroubaar verneem Stofile het selfs beloof om sy invloed in regeringskringe te gebruik om die Bok-embleem te help behou.
Heymans sê Sarpa het sy planne laat vaar om sy lede per SMS oor hul keuse vir die toppos te pols.
“Die probleem is dat die spelers sê hulle ken Mike Stofile glad nie en hulle ken Oregan Hoskins net van wat hulle op televisie van hom sien.
“Hulle is nie met die kandidate vertroud nie en dit sal dus geen doel dien om hulle te pols oor wie die geskikste kandidaat is nie.”
Omdat daar nie ’n naam gekoppel kan word aan wie die beste president sal wees nie, het Heymans uiteengesit wat hy van dié posbekleër verwag. “Die man moet uit die aard van die saak rugby ondersteun – iemand wat die aandeelhouers se belange op die hart dra, en ek glo spelers is aandeelhouers. Hy moet dus met die spelers kan saamwerk.
“Hy moet ook sterk sakebeginsels hê waarin eerlikheid, integriteit en deursigtigheid ’n groot rol speel.”
Heymans sê die redes vir ’n verandering in die topbestuur is nou minder geldig as tevore.
“Toe Silas Nkanunu en Rian Oberholzer uit die kussings gelig is, was daar goeie rede vir verandering.
“Ek is nie seker of dit nou die geval is nie. Ons het die Wêreldbeker-toernooi gewen, SA Rugby se geldsake lyk beter en Sarpa het goed met Oregan oor die weg gekom.
“Miskien het die verkiesing meer met die ambisie van een kandidaat te doen,” sê Heymans.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |