|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Mnr. André van Zyl het Saterdag ’n wêreldrekord probeer opstel deur vyf liter water binne vyf minute te drink. Hy doen dit vir MIV/vigs-bewusmaking. Foto’s: JAN GERBER
Nuus
Die lewende water . . .
24/03/2008 08:01:51 PM - (SA)
OUDTSHOORN. – “Dit was terrible!” verklaar André van Zyl.
Hy het Saterdag om 12:00 vyf liter water binne vyf minute probeer drink. “Dit was nie lekker nie. Ek het gedink dit sal maklik wees.”
Die drie en ’n half liter wat hy wél in net oor die vier minute gedrink het, is sy 30ste wêreldrekord, maar dit is net omdat niemand dit nog vantevore probeer het nie.
“Ek kan verstaan hoekom nie.
“Ek ís baie lief vir water. Ek dink dis moontlik om vyf liter water te drink,” sê hy met ’n teleurgestelde glimlag.
Teleurgesteld ja, maar nie verslane nie.
Vrydag om 12:00 probeer hy weer vyf liter water by die H2O Hydration Station afsluk.
Hy het al 20 liter melkskommels in 4 uur gedrink. Hy het ook al 211 koppies koffie in 4 uur gedrink en 76 stukkies soesji in 10 minute verorber. En dit is maar net ’n paar van sy rekords.
Maar hoekom?
“Alles gaan oor my MIV-program,” verduidelik André, in wie se are dié virus die afgelope 24 jaar leef.
“Mense is nie bereid om hieroor te praat nie. Ons kán nie mense met MIV besmet nie, ons móét mekaar beskerm. Dís hoekom ek hierdie vreemde dinge doen. Dit moet gedoen word,” verduidelik hy met groot erns.
Hy is nie so seker of die Absa KKNK die regte plek is om dié boodskap te versprei nie.
“Mense het hul eie agendas. Ek dink die Afrikaner het nog ’n totale negatiewe houding teenoor vigs. Ons is almal geaffekteer. Dit raak almal.”
Baie mense sê vir hom hulle stel nie belang in MIV/vigs nie. Sy antwoord aan hulle: “Maar dit stel belang in jou.”
Mense, veral Afrikaners, is ook baie veroordelend, vertel hy. “Ek kry baie Afrikaners wat sê: ‘Ja, dit is God se straf.’”
Hy moes al hoor MIV is ’n goeie ding omdat dit ontslae sal raak van “al die moffies en swartes”.
“Aaklig. Baie lelik,” beskryf hy dié houding.
“Hulle kan sóveel beteken,” sê hy oor diegene wat hom veroordeel.
“As een uit ’n miljoen mense my boodskap gekry het, is dit die moeite werd.”
So ’n stuk of 50 m van die stalletjie af waar André aan sy rekordpoging gedrink het, op die bruggie na die stalletjie-terrein, staan drie mans tussen die massa mense wat oor die bruggie beur.
“Dronkaards, bekeer julself!” bulder een.
Hy het ’n rooibruin baard en ’n paal waarop ’n plakkaat met ’n bekeringsboodskap aangebring is.
Sy naam is Renier van Rooyen.
“Jesus Christus het gesê ons moet gaan en die evangelie aan die hele wêreld verkondig. Die mees logiese ding is om te gaan waar die meeste mense is,” verklaar Renier sy teenwoordigheid op die fees.
“Ons is hierso, want ons wil hê die mense moet hemel toe gaan.
“Mense drink en word dronk; doen allerhande verkeerde dinge . . . Ons is hier om hulle te waarsku,” verduidelik hy.
“Die Bybel sê baie duidelik . . . In 1 Korintiërs 6: 10 en 11 en in Openbaring is daar ’n hele lys van sondaars. Jy kan duidelik sien daar is sondaars wat in die hel gaan beland as hulle hul nie bekeer nie.”
Renier is in 2001 bekeer en het toe besluit om die blye boodskap aan ander te verkondig. Hy is nie té bekommerd oor of mense na sy boodskap luister nie.
“Ag, as hulle die sign sien, het hulle klaar gesien wat hulle moet sien. So, ek is nie gepla nie. Solank die boodskap uitgaan, is ek happy.”
Die mense stroom oor die bruggie – die meeste sonder om twee keer na Renier en sy twee mededissipels te kyk.
* Dr. Wessel Vermeulen van die Klein Karoo Medi-Clinic op Oudtshoorn het gesê iemand wat vyf liter water in vyf minute wil drink, behoort nie sy lewe in gevaar te stel indien hy vir vier tot ses uur voor die tyd geen vloeistowwe ingeneem het nie. ’n Goeie gesondheid, veral niere, is nodig en daar moet gewaak word teen verstikking.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |