|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Staat beskerm armes
21/03/2008 10:23:38 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Die regering het onderneem om te sorg dat armes beskerm word teen die ergste gevolge van Eskom se beplande 63%-verhoging in die prys van elektrisiteit.
Intussen het Eskom gister gesê geen kragonderbrekings word die res van die langnaweek verwag nie, maar dat eenheid 1 van die Koeberg-kragsentrale hier sedert gisteroggend ook weens instandhoudingswerk buite bedryf is.
Die regering se reaksie volg nadat die ANC-leierskorps mnr. Alec Erwin, minister van openbare ondernemings, vroeër vandeesweek voor stok gekry het oor die voorgestelde verhogings.
Hoewel Suid-Afrika se elektrisiteit tans van die goedkoopste ter wêreld is, het baie Suid-Afrikaners uiters negatief gereageer op die nuus oor die voorgestelde prysaanpassing
“Ons is bekommerd dat die beplande verhogings negatiewe gevolge vir die lewe van armes kan hê,” het die ANC hierdie week in ’n verklaring gesê.
“Die ANC vind dit onregverdig dat Eskom geen aanduiding gegee het dat hy die huidige krisis na behore kan hanteer nie, maar aandring op verhogings wat die verbruiker se sak hard kan slaan.
“Die Reserwebank het ook aangedui dat hoër elektrisiteitspryse inflasie sal aanblaas. Ons vra minister Erwin dus om die kwessie dringend teenoor Eskom te opper,” lui die verklaring.
Die kwessie het Woensdag op die tweeweeklikse kabinetsvergadering ter sprake gekom. Die kabinet het daarop gewys dat die verhogings slegs voorstelle is en nog nie finaal vasgestel is nie.
Luidens die kabinetsverklaring wat ná die tyd uitgereik is, sal die regering sorg dat armes en kleinsake-ondernemings beskerm word teen die impak van enige verhogings. ’n Gedifferensieerde betalingskaal wat armes en kleinsake help, word deur die regering oorweeg.
Die kabinet het weer om verskoning gevra vir die huidige ongerief, maar uitgewys dat groot bedrywe soos die mynbou nie alleen die las kan dra in die poging om landwyd 10% krag te bespaar nie.
Die regering het dus opnuut ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om saam te staan en soveel moontlik krag in nasionale belang te bespaar.
Me. Erica Johnson, ’n Eskom-woordvoerder, het gister gesê eenheid 1 van Koeberg “sal na verwagting Dinsdagoggend weer in gebruik kom”.
“Eskom sal intussen sy gasturbines gebruik om ’n betroubare voorraad krag tot dan te verseker.”
“Ons versoek alle Suid-Afrikaners om hulle te verbind om 10% van hul kragverbruik te bespaar.
“Ons verwag nie beurtkrag in die langnaweek nie, omdat die aanvraag tradisioneel oor vakansies laer is. Twee ander eenhede wat gedurende die week af was, is ook weer (sedert gisteroggend) in gebruik.”
Intussen maan Eskom dat verbruikers tydens kragonderbrekings alle elektriese installasies as lewend moet hanteer.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |