|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Nuus
Xingwana woedend oor gerugte van owerspel
21/03/2008 10:41:47 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Me. Lulu Xingwana, die minister van landbou en grondsake, is ontstoke dat die nuus dat sy as die derde party in ’n egskeidingsgeding gedagvaar word, uitgelek het.
Die Burger het Donderdag berig Xingwana word vir huweliksverbrokkeling gedagvaar deur mev. Joyce Mohlahlane, eggenote van die Landbank se waarnemende hoof, dr. Phil Mohlahlane. ’n Berig oor dieselfde kwessie het dieselfde dag in die weekblad Mail & Guardian verskyn.
Nadat haar kantoor vroeër by navraag min oor die kwessie te sê gehad het, het Xingwana sedertdien skerp gereageer by monde van haar woordvoerder, mnr. Godfrey Mdhluli.
Sy beskryf die bewerings van ’n owerspelige verhouding met Mohlahlane as “absurd”.
“Minister Xingwana het ’n streng professionele verhouding met dr. Mohlahlane, wat op werkkwessies fokus. Dit is dieselfde verhouding wat sy met ander werknemers in haar departement geniet,” het Mdhluli gesê.
Hy het daarop gewys dat Mohlahlane lank voor Xingwana minister geword het, by die departement van landbou betrokke was.
“Die minister verwerp die berigte wat berus op hofstukke wat nog nie aan haar bestel is nie, waarin beweer is dat sy en dr. Mohlahlane sedert 2006 in ’n onvanpaste verhouding betrokke is.
“Die minister is verstom oor die bewerings en sy verwerp dit as ongegrond, kwaadwillig en sonder enige feitelike gronde,” het Mdhluli gesê.
Hy het aangevoer dat Mohlahlane gereeld as deel van sy werkspligte moet reis; soms ook oorsee, soos sy senior pos vereis, en dat dit dus nie op bevoordeling deur Xingwana neerkom nie.
Te midde van die huidige omstredenheid oor die Landbank se geldsake het Mdhluli ten sterkste ontken dat Xingwana vir Mohlahlane geskerm en hom beskerm het, soos lankal wyd in landboukringe gesê word en ook in die hofstukke ter sprake kom.
Indien dit wél gebeur het, word in politieke kringe geglo dit sou ’n konflik van belange verteenwoordig.
“Die minister stel dit nogmaals duidelik dat sy nog nooit enige spesiale voordele of beskerming aangebied het nie en dat niemand haar al ooit gevra het om dit te doen nie,” het Mdhluli gesê.
Oor die selfoonoproepe laataand van haar aan hom het hy volgehou Xingwana bel gereeld senior amptenare enige tyd van die dag en nag oor werkverwante kwessies.
Xingwana is ook hewig ontsteld omdat die koerante die hofstukke voor haar gesien het, wat sy meen onregverdig is, en omdat sowel Die Burger as die Mail & Guardian geweier het om hul onderskeie bronne bekend te maak.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |