|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu het verpleegsters in die Kaapse Metropool geprys vir hul suksesse in die stryd teen tuberkulose, kort voor Wêreldtuberkulose-dag op 24 Maart vanjaar. Foto: GARTH STEAD
Nuus
TB-afname ‘nie ware stand van sake’
14/03/2008 08:38:56 PM - (SA)
KAAPSTAD. – ’n Afname in die aantal nuwe TB-gevalle per jaar in die Kaapse metropool dui dalk eerder op gevalle wat nie opgespoor word nie.
Dr. Ivan Toms, die stad se direkteur van gesondheid, meen syfers wat op ’n effense afname in 2007 dui, weerspieël nie die ware stand van sake nie.
Toms het gesê dié 1%-afname in 2007 van nuwe TB-gevalle per jaar teenoor 2006, is eintlik kommerwekkend.
“Ons dink dit is nie ’n ware weerspieëling van die stand van TB-sake nie,” het hy gesê.
Hy het gepraat op ’n byeenkoms gister in Mitchells Plain vir TB-klinieke in die metropool wat goed gepresteer het.
In 2006 was daar 26 840 nuwe gevalle en verlede jaar 26 669.
Die afgelope tien jaar was daar ook ’n reuse-toename van 66% in nuwe TB-gevalle in die Kaapse metropool.
In die Wes-Kaap dra die Kaapse metropool ook die grootste TB-las, met meer as die helfte van die bykans 50 000 gevalle in die provinsie wat hier voorkom.
Die weerstandige vorme van dié “siekte van armoede”, MDR- en XDR-TB, bly ’n uitdaging.
“Die beste manier om die verspreiding van XDR-TB te voorkom, is om TB die eerste keer te genees. Met harde werk kan ons binne ’n jaar of twee bo die XDR-TB-probleem uitstyg,” meen Toms.
Verskeie klinieke in die metropool is juis gister vereer vir harde werk wat verseker het dat die genesingskoers vir TB aansienlik verbeter het.
Die Site B-kliniek in Khayelitsha het sy genesingskoers vir nuwe gevalle van TB van 37% tot ’n allemintige 67% opgestoot.
Dit is ’n merkwaardige prestasie as in ag geneem word dat dié kliniek sowat 2 000 TB-gevalle per jaar hanteer.
Oor die algemeen het die stad goed gevaar met sy genesingskoers vir TB, maar vir herbehandelings van TB-pasiënte was die genesingskoers aansienlik laer.
“Iemand wat MIV-positief is, se risiko om TB op te doen, is 60 keer groter as diegene wat MIV-negatief is,” het Toms gesê.
Emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu, wat self TB gehad het toe hy 12 jaar oud was, het gesê Suid-Afrika se gesondheidstelsel is in die moeilikheid en dit is nodig dat dit erken word, veral in die lig van die dodelike kombinasie van MIV/vigs en TB.
Tutu, wat destyds vir bykans twee jaar in die hospitaal moes bly, het gesê hy het sy tyd daar geniet, omdat een verpleegster behoorlik sy jong hartjie vinniger laat klop het.
Hy het die sowat 200 verpleegsters by gister se byeenkoms geprys vir hul onbaatsugtige diens.
“Wanneer God neerkyk op die aarde en al die lelike goed sien, huil Hy. Maar as Hy sien wat mense soos julle doen, glimlag Hy deur Sy trane,” het Tutu gesê.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |