|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Aanvaller skiet 3 dood, wond 7 toe hy plakkerskamp invaar
15/01/2008 11:04:11 PM - (SA)
SWARTRUGGENS. – Hy het geskiet so ver hy loop.
Later het mnr. Johan Nel glo na ’n buurman gegaan en gevra vir nog .303-patrone. “Ons het nou net ’n plakkerskamp aangeval,” het die jong vermeende aanvaller die buurman meegedeel.
Só het getuies gister vertel oor die bloedspoor wat Nel (18), van ’n plaas in dié omgewing, na bewering in ’n plakkersgemeenskap gelaat het. Drie mense is doodgeskiet en nog sewe gewond in die voorval, wat omstreeks 16:00 eergister plaasgevind het.
Twee van die dooies in die Skielik-plakkerskamp, tussen Swartruggens en Koster, was ’n drie-maande-oue babadogtertjie en tienjarige seun.
Sowat 300 inwoners van Skielik het gister die pad tussen Swartruggens en Koster met boomtakke en ’n uitgebrande motorwrak afgesper om hul ontevredenheid te kenne te gee.
Hulle het eers teen 12:00 vreedsaam verdaag nadat mnr. Phenye Vilakazi, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Noordwes, hulle verseker het dat alles moontlik gedoen word om die aanvaller vas te trek.
’n Hartseer me. Christina Motshelahoka, ma van die tienjarige Tshepo wat dood is, sê sy het in Pretoria gewerk toe sy die oproep kry dat sy dadelik moet huis toe gaan. Tshepo se ouma, me. Sophie Motshelahoka, het hom opgepas. Volgens Motshelahoka sr. het sy eergistermiddag skote hoor klap.
“Toe ek buite kom, het ek hom in ’n bloedplas gekry.”
’n Buurvrou sê Tshepo het met ’n motorbuiteband in hul erf gespeel toe sy ’n man met ’n geweer sien verbykom. “Hy het hom in die nek geskiet en toe in die bors. Tshepo het op die band geval en toe het die man hom in die rug geskiet.”
Me. Annah Moiphitlhi (31) en haar dogter, Keditlohotse Elisabeth (drie maande), is ’n ent verder af in die stofstraat geskiet. Moiphitlhi was nie gister in die Paul Kruger-gedenkhospitaal in Rustenburg in staat om te praat nie. Haar dogtertjie is op die toneel dood. Die identiteit van die derde slagoffer, ’n man in sy dertigs, was teen druktyd nog onbekend.
Me. Kgomotso Seruthe (23), wat in haar linkerknie geskiet is, sê die aanvaller het met ’n bakkie langs die teerpad in die plakkerskamp stilgehou en toe na die huise toe geloop. “Hy het geskiet so ver hy loop. Ek was in die erf besig met wasgoed toe skiet hy my.”
Nóg ’n ontstelde ma het gister langs haar seun se bedjie in die hospitaal gewaak. Me. Christina Loutreng se driejarige seun is in sy skouer en hand geskiet. Die seuntjie het sy linkerpinkie verloor.
Nel, wat glo met hoenders boer en tuisonderrig ontvang het, het glo ná die voorval na ’n buurman se huis gery en hom gevra vir nog .303-patrone. Volgens die buurman, wat anoniem wil bly, was Nel in ou weermagklere geklee met die geweer aan ’n band oor sy skouer.
“Hy het gesê: ‘Ons het nou net ’n plakkerskamp aangeval’.”
Die polisie het ’n grootskaalse soektog na Nel geloods, maar Nel is later gistermiddag, byna 24 uur ná die skietery, in hegtenis geneem nadat hy homself oorgegee het. Hy sal glo môre in die hof verskyn.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |