|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
|
|
||||||||
![]() John Terry in trane ná Engeland se nederlaag teen Portugal. Foto: REUTERS
Nuus
Sokkerspelers huil nou makliker as voorheen
REUTERS 05/07/2006 10:52:52 PM - (SA)
BERLYN. - Die sokker is dalk nie altyd vloeiend in die Wêreldbeker-toernooi nie, maar die trane het al behoorlik gevloei. David Beckham het die jongste speler geword wat sy hart op sy mou gedra het toe hy Sondag gesê het hy sal nie meer beskikbaar wees as Engeland se kaptein nie. Dié aankondiging het gekom nadat sy land in die kwarteindronde uitgeskakel is toe hy met strafdoele teen Portugal verloor het. Sulke vertoon van emosies het voorheen eksklusief by Latynse spanne voorgekom. Eusebio, een van die Portuguese se beste doelskieters, het 40 jaar gelede in die Wêreldbeker-toernooi trane van verdriet gestort toe Portugal teen Engeland in die halfeindronde van dié toernooi verloor het. ’n Geslag later is huilende sokkersterre oor die wêreld heen nie ’n vreemde verskynsel vir sokkerondersteuners wanneer spanne wen of verloor. Ludovic Magnin van Switserland het begin huil toe sy span in die tweede ronde teen Oekraïne verloor het, terwyl die veteraan-middelveldspeler Hidetoshi Nakata van die onpeilbare Japan openlik in die kleedkamer gehuil het nadat hy sy laaste internasionale wedstryd vir sy land gespeel het. Japan het teen Brasilië verloor. Mexiko se doelwagter, Oswaldo Sanchez, het selfs meer gehad om oor te huil toe sy span Iran met 3-1 in eerste ronde geklop het. Sy buitengewone vertoning in die doelhok het net ’n dag gekom ná sy pa se begrafnis. Professor Bernard Capp, ’n geskiedkundige aan die Universiteit van Warwick, wat nagevors het wat dit vir mans aanvaarbaar maak om te huil in Engeland, die land van die “stywe bolip”, sê dit is meer as net sokker. “Dit het gedeeltelik te maak met die verandering in geslagsrolle. “Dit is nou meer aanvaarbaar vir mans om meer openlik oor hulle emosies te wees,” het Capp gesê. Hy het bygevoeg dat dit net so belangrik is dat sokker veel meer as net ’n gewone spel geword het. Die atmosfeer by ’n groot wedstryd is verwant aan ’n “godsdienstige opwekkingsdiens”, ’n faktor wat sokker belangrik genoeg maak vir mans om te huil. “Dit gaan deesdae nie net meer oor die oorwinning nie,” het Capp gesê. Dr. Cristina Versari, ’n sportsielkundige van San Diego, Kalifornië, sê die emosionele aspekte van sportsoorte met ’n hoë profiel word deesdae deur meer kommersiële en ander betekenisse aangedryf as net deur die mededingende passie van die spelers. “Die belegging is veel groter en daar is soveel op die spel, baie meer as voorheen,” het Versari, ’n Brasiliaan wat met NBA-beroepspelers werk, gesê. Sy het verwys na die ongelooflike hoeveelheid geld wat daar deesdae op sukses of mislukking is. Versari het gesê sy het sowat 25 jaar gelede vir haar doktorsgraad die kontrasterende gedrag van Brasiliaanse en Amerikaanse judeka bestudeer. Sy het bevind dat die grootste verskil tussen dié sportlui die hoër graad van emosies by die Brasiliane was. Brittanje se Stigting vir Geestesgesondheid het saamgestem. “Dit is belowend dat sokker dit makliker maak om oor hulle gevoelens te praat. “Tradisioneel sal mans baie minder as vroue oor hulle innigste denke praat,” het dr. Andrew McCulloch, van die Stigting gesê. Hy meen die WB-toernooi het hulle meer spontaan gemaak en dit is ’n goeie ding.
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |