|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Motors
PADLANGS: Volvo-stasiewa die nuwe opsitkers
07/05/2008 07:05:56 PM - (SA)
DIS die Viagra-pil van die 21ste eeuse motorverkoopsman. En as Kupido in die omtrek was, het sy pyle met hoë oktaan gevlieg. Turbo-pyle, ou grote.
Dis reg, motors verkoop is lankal nie meer net vir bande skop nie. Of, om ’n tjop uit Spur se boek te neem: Jy verkoop nie net die wiele nie, dis deesdae die hele vuurwa – as ’n romantiese konsep. Jip, selfs al is dit ’n Volvo.
Dit mag dalk as ’n effense verrassing kom. Immers, ’n Volvo-stasiewa was nog nooit bo-aan die romantiese lysie van maanskyn-motors nie. Nie soos tweesitplek-erotika soos Porsche, Ferrari of Lamborghini nie.
Volvo’s was nog altyd, wel, Volvo’s. Die Woolworths van die motorskou. Deugsame rygoed, man. Iets waarmee jy die kinders hokkieveld toe karwei. Of potplante gaan oplaai. Heng, dis prakties gesproke die enigste vierwieler waarin Wagter nié karsiek sal raak nie. Generasies van voorstedelike huisgesinne kan tog nie verkeerd wees nie.
Maar nou gaan dit alles verander. As ’n amoreuse Volvo-handelaar in Sydney sy sin kan kry.
Dis eintlik ’n briljante idee: Om twee toetsritte so saam-saam te laat lepellê. Nou kan jy jou kar-soek met meisie-soek kombineer, en niemand sal ná die tyd kan kla dat hy vir ’n pretrit geneem is nie.
Al wat jy moet doen, is om aan die handelaar te sê jy soek ’n lekker ryding. ’n Stewige knipoog is opsioneel.
Dan sal ’n weelderige Volvo – met sy eie bestuurder – jou een aand kom oplaai, en swierig na die handelaar neem.
Hier kry jy dan agt minute se geselstyd met ’n dame wat Fast Impressions (’n ontmoetingsdiens vir enkellopendes in Sydney) spesiaal vir jou gereël het. Op die agtersitplek van ’n nuwe Volvo.
As jul geselsies die toere in die rooi gedruk het, kan die chauffeur julle na ’n dakrestaurant in Sydney se blink sakedeel neem. Om die kleppe verder warmer te klits.
Die eerste paar sessies, waar die jong jeukeriges vir ’n spoed-kuiertjie in ’n Volvo opgedaag het, is reeds agter die rug. “Gina” sê sy’t nie juis veel van motors vooraf geweet nie. Maar nou dink sy karre is lekker. Wag, maak dit sommer baie lekker, mymer sy. Ongelukkig wou die persverklaring nie uitwei of “Craig” toe wel die Volvo gekoop het nie. Maar op die foto, styf neffens Gina, kon jy sien hy’s ingenome met sy ander aanvallige model.
Dat dié stoute ding nou juis in Australië sy kop moes uitsteek, verbaas my glad nie. Dis ook net ’n Aussie wat ’n Volvo-stasiewa as ’n potensiële opsitkers sal beskou. Hei, jy’t tog al gehoor hoe senuagtig die skape in daardie geweste is.
Maar hier in Suid-Afrika het ons darem al ’n paar evolusietreë aangestap.
Jy kan maar sê op die romantiese motorleer het ons al tot die tweesitplekMerc gevorder. Al is dit meermale eintlik net ’n Tazz met blou ligte onder sy maag. Nee jis, as ek die ding so kyk is daar darem nog hoop vir ons Kaapse casanovas.
Gooi ’n es Saterdagaand op Vlaeberg en haar oë blink nes die stad se liggies. Of wel, dis wat die tjommas-wat-wiet hier in Langstraat my vertel.
Beter nog, Frikkie, gryp ’n (wit) dubbelkajuit en parkeer dwars op die sypaadjie in Edwardstraat – Durbanville se eie kyk-en-stout-lyk geweste.
Dit doen glo vir die noordelike meisies soos wat ’n Volvo skaars die sheilas Doer Onder kan laat rittel.
’n Ou van De Aar het my selfs iets van windpompe en volmaan probeer vertel, maar gelukkig het my foon gelui. Kyk, dit was amper.
Dalk het daai Volvo-handelaar in Sydney tog ’n punt beet. As jy en die aster oor niks kan gesels nie, kan jy darem so onderdeur loer of die stasiewa groot genoeg is vir Wagter en sy hok. Goed-goed, ou maat, ’n skaap dan tog ook.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |