|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Die pakplek agter is skraps, maar jy kan darem die rugleunings platslaan.
Motors
Tiguan, turbodiesel perfekte pasmaats
30/04/2008 07:54:40 PM - (SA)
DIS die nuwe slagveld van die motorbedryf. Waar die Freelander en RAV4 eens die enigste strydrosse in die mark vir sagte 4x4’s was, wil elke vervaardiger nou ’n hoogsit-waentjie aan jong kopers bied. Die jongste vierwielbuks is Volkswagen se Tiguan; en hoewel hy effe vaal kan lyk, is hy propvol karakter – en heelwat luukshede – as jy eers in hom klim.
Die Tiguan het sy vastrap-tekkies sekuur op die jong, avontuurlustige kopersmark gevestig. Daarom is hy dan ook tot die sonskerms toe gelaai met tegno-hulpmiddels en nuwighede. Selfs die naam is heel onkonvensioneel gekies.
Volkswagen AG het in die gewilde Duitse tydskrif AutoBild ’n kompetisie van stapel gestuur waarin lesers vir ’n aantal voorstelle kon stem. Die sameflansing van Tiger en Iguana het uiteindelik die meeste regmerkies gekry.
In Suid-Afrika beplan VW om die Tiguan-reeks so met verdrag bekend te stel. Twee modelle, die 2.0 liter-turbodiesel en die nuwe 1.4 liter-TSI-kragbron (wat oor sowel ’n turbo- as ’n superaanjaer beskik), is dadelik beskikbaar. ’n Frisser 2.0 liter-TSI-model sal in September hier kom vastrap, en ’n intreevlak-1.4 TSI-model met net 4x2-aandrywing sal einde vanjaar hier wees.
Al die modelle – behalwe die intreevlak-kêrel – sal oor permanente vierwielaandrywing beskik. Dis ’n gewone Haldex-koppeling, en die meeste van die krag gaan na die agterwiele. Meer krag kan egter ook na die voorwiele gestuur word as jou wiele begin glip.
Die hoë spesifikasievlak is gou sigbaar, aangesien die hele reeks met sesgang-handratkaste of (in sekere gevalle) outomatiese sesgang-ratkaste toegerus is.
Wat afwerking betref, sal jy jou die Tiguan met een van drie pakkette kan kies: stad (Trend & Fun), veld (Track & Field) en sportief (Sport & Style).
Die veldjassie gee jou Tiguan byvoorbeeld buffers voor en agter wat nie so laag afhang soos die stadspakket s’n nie. Dis nou sodat jy makliker deur ’n sloot in die veld kan gaan klouter en jou neus nie in die sand vassteek nie.
Die veldpakket het ook ’n nuttige metaalplaat van 1.5 mm dik onder die pens om jou enjin en ratkas te beskerm.
’n Nuttige kenmerk is ook dat VW die swart plastiek-beskermingstroke by die deure só ontwerp het dat dit laag afhang en tot onder die motor se pens strek. As jy dus die deur oopmaak, sal jou broek nie vuil word as jy in die uitklimproses jou kuite teen die drumpel skuur nie.
Hoewel die grondvryhoogte van 200 mm dieselfde vir al die Tiguan-modelle is, kry die veldrypakket ’n ekstra heuwelklim- en afdraandebeheer-stelsel by.
Wat voorkoms betref, het VW se ontwerpers nie wawiele probeer doen met hul tekenwerk nie. Die buksie staan regop, en sy profiel is baie hoekig. Trouens, van agter kan jy hom maklik met die groter Touareg verwar.
Binne bied hy sitplek aan vyf volwassenes; en hoewel die laairuimte heel billik is, sal elke persoon net een tas kan saamkarwei. Gelukkig kan die rugleunings agter platgeslaan word.
Wat die instrumentasie betref, het VW die gewone Golf- voorkoms behou.
In ’n klein skerm hoog in die middelkonsole is die parkeerkamera en satellietnavigasie (by die luukser modelle), maar verder is alles taamlik somber in swart afgewerk.
Wel, totdat jy in die prettige stadspakket inklim. Nou het die sitplekke ’n donkerbruin leer- afwerking en is daar aluminiumstroke by die instrumente. Dít lyk gewis vroliker as ’n Golf se kerkraad-soberheid.
Die grootste nuus is egter die VW-groep se nuwe TSI-enjins, wat die eerste keer hul gesig kom wys. Oorsee het VW sy spog-enjins – vir ’n klein 1.4 liter kry jy ’n fris 2.0 liter se krag en brandstofverbruik – eerste in die Polo bekend gestel. Dit was straks die wyse besluit; want hoewel die 1.4 TSI ’n fenomenale stukkie ingenieursvernuf is, is die groot Tiguan net te swaar vir die kragbron om tot sy reg te kom.
Dit moes hier ook eerste in die Polo bekend gestel gewees het, maar nouja . . .
Die teorie is dat die TSI-enjin se superaanjaer krag teen lae toere verskaf, waarna die turbo hier teen 3 500 r/min. inskop en die super-aanjaer ophou draai. Die beste van albei wêrelde, dus, sê VW.
Wel, op die oop pad voel die 1.4 TSI gewis heel gewillig, maar jy moet hom nogal roer om te versnel. Ek het hom heeltyd bokant 4 000 r/min. (sodat die turbo’tjie goed kan sing) gehou, en selfs dan moes jy mooi mik om iemand verby te steek.
Die turbodiesel, op sy beurt, is heel kragtig en pas die Tiguan perfek. Lekker sterk, goeie verbysteek-krag en spaarsaam met die diesel. Tot tyd en wyl die 2.0 liter- TSI aankom, met sy GTI-krag van 147 kW, is die turbodiesel jou eerste keuse.
Die groot Tiguan voel sag en gemaklik op die pad, met net effense bakrol wanneer ’n mens in ’n draai induik. Effense stuurtraagheid kan deurkom, maar hy sal sy lyn goed hou. Die beste is egter die puik klankdemping wat VW toegepas het. Jy hoor nie die enjin voordat jou voete woel nie. Dit verhoog die gevoel van luuksheid en laat jou voel asof jy in iets deftigers as ’n RAV4 ry.
VW reken sy nuwe Tiguan gaan wyd slaan in die mark, en ’n mens kan sien hoekom. Met ’n prysreeks wat van R247 500 tot R347 000 wissel, dek hy die hele spektrum. Kies net jou kragbron reg vir die doel waarvoor jy hom wil gebruik, sou ons aanraai.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |