|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Die produksie-weergawe van die afslaankap is nog nie gewys nie, maar hy behoort feitlik glad nie van hierdie voorproduksie-model te verskil nie.
Motors
Camaro maak binnekort sy buiging
30/04/2008 07:50:59 PM - (SA)
HY is die eerste keer in die fliek Transformers gewys en nou is hy op die vertoonvloer.
Dit is ongeveer ’n jaar sedert General Motors se Chevrolet Camaro as Bumblebee in Transformers-fliekgangers op hol gehad het. GM sê self dat mense die foonlyne warm gebel het om uit te vind wanneer hierdie motor by handelaars gaan opdaag.
Só goed was die reaksie dat Bob Lutz, grootbaas van produkontwikkeling by GM, sê hulle wil 100 000 eenhede van hierdie meneer, wat nou produksie-gereed is, elke jaar verkoop. Die VSA sal sonder twyfel vir die grootste deel hiervan verantwoordelik wees, maar in Europa sal ’n afslaankap-weergawe vroeg reeds beskikbaar wees om hierdie mark ook opgewonde te maak.
Die beste nuus is dat die Camaro ook bestem is vir lande soos Brittanje, Australië en Suid-Afrika. Lutz het reeds belowe dat feitlik alle GM-produkte in die toekoms as beide linker- en regterstuurmodelle beskikbaar sal wees en dus is die Camaro reg vir Suid-Afrika. Onthou dat GM handelsname soos Hummer, Cadillac, Chevrolet, Opel, Isuzu en Saab besit.
Onder die vel is die Camaro ’n tipiese en tradisionele Amerikaanse spiermotor. GM het hom met ’n verwerkte weergawe van sy bestaande V8 toegerus, wat nou ’n slagvolume van 6.0 liter bied. Hierdie enjin lewer 300 kW en is skynbaar reg vir “sub-5 sekonde versnellingstye tot 100 km/h”. ’n Tweede enjin, ’n V6 van 3.6 liter, word ook beplan en behoort 200 kW te lewer.
GM se besluit om die Camaro-naam te laat herleef, is geen verrassing nie. Die groep het reeds vir twee jaar gestaan en kyk hoe klassieke Amerikaanse spiermotors, soos die nuwe Ford Mustang, die Dodge Challenger en die Chrysler 300C, ’n mark vir hulself uitkrap.
Die sukses van hierdie nuwe vlaag van spiermotors is sekerlik kommerwekkend vir enigiemand wat op TV gesien het hoe dele van Antarktika smelt, maar GM beloof dat die Camaro nie só dors is nie. Een rede hiervoor is GM se bekende stelsel wat vier van die agt silinders afskakel as jy rustig ry. Die vraag bly egter staan of ’n mens met 400 perdekrag onder die enjinkap rustig sal kan ry.
GM Suid-Afrika het reeds in die verlede gesê dat hulle die Camaro na Suid-Afrika wil bring. Teen die huidige wisselkoerse en tempo van nuwe modelbekendstellings by GM sal kopers egter tot 2010 moet wag om hul hande aan een te slaan.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |