|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Colleen Eitzen
Leefstyl
SA ontwerpers druk klante nie in boksies
13/05/2008 07:44:21 PM - (SA)
ALBEI bogenoemde ontwerpers neem deel aan die Kaapstadse Modefees, wat Saterdag met die Gala Fashion Night & Fashion Awards op die wynlandgoed Spier buite Stellenbosch met ’n glansgeleentheid beëindig word.
Amanda Laird-Cherry se uitrustings sal deel uitmaak van die modevertoning saam met die ontwerpers David Tlale, Bongiwe Walaza en Lunar. Ontwerpers sal by dié geleentheid vir hul bydraes tot die modewêreld beloon word in die kategorieë ontwerper, vervaardiger, kleinhandelaar en innoveerder van die jaar.
Maar dan bly die modewêreld vir dié wat dit net wil geniet, pure bederf – of jy nou huis toe gaan met sakke vol lekkerkry of nie.
Dít is wat ’n besoek aan die klere-en-huisware-winkel The Space alles vir jou inhou. Hier hang elegante aandrokkies langs T-hemde met pittige boodskappe, staan kleurryke lekkerruikseep langs groetekaartjies op uitstaltafels en kan ma’s selfs vir hul baba ’n paar unieke kledingstukke aanskaf wat hulle nie elders sal raakloop nie.
Dit is nie ’n winkel met duur, ingevoerde ware nie. The Space is ’n plek vir Suid-Afrikaanse ontwerpers wat wéét waarvan Suid-Afrikaners hou.
Die Durbanse modeontwerpers Laird-Cherry en Colleen Eitzen is twee van dié suksesvolle groep se eienaars. Eitzen se man, Neil Roake, het in 1998 die Durban Designer’s Emporium begin om sy vrou se ontwerpe te verkoop. The Space het ’n jaar later gevolg om ’n platform vir nog meer Suid-Afrikaanse ontwerpers te bied.
“Ons ondersteun en bemark toegewyde plaaslike ontwerpers,” sê Laird-Cherry.
Sowat tien jaar later is daar ses van dié winkels landwyd, onder meer in Johannesburg (Rosebank), Durban en Kaapstad. “Dit is omdat local so lekker is,” sê Eitzen, wie se klere langs dié van Laird-Cherry en ontwerpers soos Maya Prass en Alfalfa s’n op die rakke is.
“Ons skryf nie aan ons ontwerpers voor nie,” sê Eitzen. Wat The Space wél bied, is rakke vol verskeidenheid en dikwels klere met ’n humorsin. Materiale, goeie ontwerp en modes wat kan verkoop, is volgens Laird-Cherry drie van die hoekstene van goeie klereontwerp.
Die klere wat sy vir The Space maak, is maklik om te dra, maar het dikwels ’n element wat dit van die gewone onderskei. Persoonlike aandag en daardie andersheid is volgens Eitzen die rede vir The Space se sukses.
“Ek, Neil en Amanda bring baie tyd saam met interessante mense deur. Ek dink die mense wat ons klere koop, voel ’n persoonlike verbintenis met ons.”
Dié drie probeer ook nie hul klante in boksies druk nie. “Mense is lief daarvoor om ons winkels te besoek en sommer net deur die rakke te drentel. Maar ma’s en dogters kan saam kom soek na daardie volmaakte artikel, en selfs oumas kan hier ’n wonderlike ervaring hê.”
Laird-Cherry sê mense koop dikwels klere wat weerspieël hoe hulle hulself in die samelewing sien. “Die ontploffing in Shwe Shwe (materiaal) was baie interessant. Dit was asof mense deur middel van die materiaal, met ’n lang geskiedenis in Suid-Afrika, ’n stelling oor hul verbintenis tot ons land en sy veranderinge gemaak het.”
The Space het ’n soortgelyke verbintenis tot die modebedryf in Suid-Afrika. Veral omdat die betrokkenes besef Suid-Afrikaners verdien hoë gehalte, interessante en bekostigbare ontwerpersklere.
“Wanneer ek rondkyk, sien ek ’n volk van vroue wat weet hoe om hul eie styl in mode te omskep,” sê die passievolle Eitzen. “Gee hulle die basiese artikels en hulle sal die res self doen.”
Besoek www.thespace.co.za.
Amanda Laird-Cherry se moet-hê-kopies vir die herfs/winter-seisoen:
*Speel met volume – dra lang, los bostukke, saam met nou (skinny) broeke.
*Jasse, meer as een, is ’n moet.
*Tuniekbostukke.
*Kraaghemde met ’n goeie snit.
*Rompe met hoë middels.
*Materiale soos melton, linne en sagte voile.
Colleen Eitzen voorspel die neigings van die herfs en winter van vanjaar:
*sagte jasse;
*rokke wat maklik dra;
*wyepyp-langbroeke;
*snyershemde; en
*baie lae. Dit werk altyd en is ’n aantrek-oplossing vir elke seisoen.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |