|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
’n Nuwe hondjie se “trop” moet een vir een aan hom bekendgestel word. Thandi, die Anatoliese herdershond regs, is skaars drie maande oud en amper so groot soos Tara, die vierjarige golden retriever, wat die woelige nuweling met baie geduld aanvaar het. Foto’s: SAMARIE SMITH
Leefstyl
Welkom nuweling!
13/05/2008 07:27:31 PM - (SA)
EK het êrens gelees dat die gemiddelde hondjie sy eienaar binne die eerste jaar van sy lewe sowat R13 000 uit die sak sal jaag. Dit sluit die kostes van veeartsbesoeke in, kosrekeninge, opvoeding, diereherberge, beserings en . . . skade wat hy rondom die huis aanrig.
Mmmm, dit klink nogal baie. Maar ek het onlangs ’n ses maande oue bokser teëgekom wat in dié skrale leeftyd sy pad deur ’n ontwerperstuin gevreet het en sy eienaar se vrou se BMW se buffer, spieëltjies en agterligte vernietig het. Maar dit is nie al nie. Ook die besproeiingstelsel, twee Kreepy Kraulies, ’n paar broodbome en die hek se motor het ook deurgeloop. Die skade het sowat R20 000 bedra.
Maar dit is nie nodig dat jou nuweling se jeugfase in ’n katastrofe ontaard nie.
Om die waarheid te sê, as ’n mens ’n paar eenvoudige reëls volg, kan jy die hondjie se withaai-fase (met minimum impak op jou liggaamsdele en waardevolle besittings) baie goed beheer.
Hoe sien die hondjie dit?
*Eerstens moet jy verstaan dat jou hond ’n tropdier is en geselskap nodig het – veral nadat hy pas van sy ma, ander kleintjies en die lewe waaraan hy bekend was, weggeneem is.
*Hy kry heel moontlik koud, is honger en doodbang vir al die onbekende dinge waarmee hy omring is.
*Hy mis sy ma, wat nie meer daar is om hom te beskerm teen alles wat hy as gevare om hom beskou nie.
En wat doen die gemiddelde nuwe eienaar?
Hy isoleer die nuwe, reeds getraumatiseerde baba in die kombuis, waar dit gewaarborg is dat hy heelnag uit blote vrees moord en brand sal skreeu.
Dit is nie net wreed nie, maar kan ernstige en permanente psigologiese skade aanrig omdat die hondjie juis nou gedwing word om vaardighede te gebruik wat nog nie behoorlik ontwikkel het nie.
Ek aanvaar jy beoog om ’n superhond groot te maak wat jou nie heelnag sal wakker hou en jou huis en tuin sal verniel nie.
As jy verwag dat jou hond ’n gewaardeerde lid van die gesin word, volg die volgende reëls:
*Gemak en veiligheid
Indien ’n goeie nagrus vir jou belangrik is, sal jy die hondjie in jou slaapkamer moet hou waar hy veilig voel totdat hy sy omgewing en nuwe mense leer ken.
Dit sal hom sowat ’n maand kos om sy selfvertroue op te bou en die buitewêreld op sy eie aan te durf.
Hou hom ook eers in die huis, want die buitewêreld hou vir enige baba baie gevare in.
*Kos
As jy wil hê dat jou nuwe hondjie darem ook ’n goeie nagrus moet hê en nie jou arms vir opgekapte lewer aansien nie, sorg dat hy gereeld klein etes gevoer word met groot rou, vleiserige bene waaraan hy tussendeur kan kou.
Onthou, soos enige baba gaan hy beslis nie met ’n leë magie slaap nie. Sorg maar dat die maag vol is om stadigaan krag in daardie hol beentjies te pomp.
*Potjiedissipline
Dít is ’n moet. Ná elke ete moet jy die klein poe-masjien buitentoe neem, elke keer na die dieselfde plek (’n droë, grasserige deel is ideaal). Gebruik ’n towerwoord soos “boerpot”.
As hy daarop reageer, wees vrygewig en beloon hom met ’n snoephappie. Prys hom en neem hom terug die huis in.
*Kalmerende tekens
Oefening is vir ’n klein hond onnodig. Hy kan nog nie daarby baat vind nie. Hou hom eerder rustig. Jou stem en die toon daarvan moet altyd kalmerend wees. Jou liggaamstaal en energie het ’n sterk invloed op die hondjie en sal help om hom in toom te hou.
*Sielkundige stimulering
Maak seker hy het genoeg goed om aan te kou, soos rou bene en speelgoed. Speletjies wat sy intelligensie stimuleer, is net so belangrik. ’n Mens kan lekker idees daarvoor op YouTube en Google opspoor. Begin hom truuks leer wat nie baie energie vereis nie.
*Ander gesinstroeteldiere
Baie geduld is nodig om die nuweling aan die ander huisdiere bekend te stel. Dit moet ook geleidelik gedoen word, een dier op ’n slag, totdat die nuwe kleintjie gemaklik is met elke vreemdeling in sy omgewing. Moet hom nie aan die diep kant ingooi nie.
*Hondeskool
Bespreek so gou moontlik ’n plek vir jou en jou hondjie in ’n gerespekteerde hondeskool. Nie net sal dit hom die nodige lewensvaardighede leer nie, maar dit sal ook sorg dat jy nie jou verstand in die proses verloor nie!
*Gesondheid
Moenie sy inspuitings binne die eerste ses tot agt weke vergeet nie. Hy moet op twaalf weke teruggaan en op ses maande teen hondsdolheid ingeënt word. Hy moet ook ontwurm word. Praat met jou veearts en wees goed ingelig oor alles wat jou hondjie nodig het.
Sorg dat julle albei baie pret en vreugde uit die tydperk put; en neem baie foto’s.
Vir meer inligting, besoek www. copydog.co.za. Vir meer raad oor jul harige vriende, besoek Glynne se webwerwe www.petshrink.co.za of www.thepetshrink.info.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |