|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Leefstyl
FYNPROE: Prikkel jou liefdeslewe
06/05/2008 08:27:40 PM - (SA)
GEVRA oor die legendes van sekere kossoorte soos rou oesters om jou lus te prikkel, het ’n wyse ou kosman só geantwoord: Nee, ek weet nie van sulkes nie, maar ek weet van geregte wat jou nié prikkel nie. Hulle is sonder liefde gemaak.
Op Ingils staan sulke kos as anaphrodisiac bekend, oftewel onprikkelende kos. Dus eerder ’n stukkie droë brood met liefde daarby as ’n skaaptjop met haat daarby.
Jouberthuis, ’n deel van die museum hier in Montagu, verkoop inheemse medisinale kruiemengsels en word dikwels suutjies geraadpleeg oor ’n kruid wat vlam in die liefdeslewe kan blaas. Ongelukkig bestaan so ’n kruid nie, is die antwoord – die probleem lê nie in die lyf nie, maar in die kop.
Sê wie? Hier kom die befaamde Annie – sy van die ou Khoi-bloed – op pad na die berg, waar sy geheime kruie gaan pluk. “Waarvoor help dit, Annie?” vra ons.
“Dis om my man se natuur te laat bedaar,” antwoord die vrou wat die wysheid van haar voormense goed ken. Een pronkerige kêrel in ’n restaurant meen oesters werk goed vir hom, maar van die dosyn wat hy ten duurste bestel het, het slegs omtrent nege gewerk.
Alles in een nag? vra ’n mooi meisie ewe onskuldig, maar met ’n stoute vonkel in die oog. Toe bloos almal van die lag. Ons stem egter almal saam: Selfs Babette se feesmaal sal nie van jou ’n beter vryer maak as die kos nie met liefde berei en voorgesit word nie.
Japanners glo dat ’n sekere soort vis, foegoe, jou beslis sal prikkel – veral aangesien jy weet dit kan kan jou lewe kos. Die smaaklike vissie se lewer is dodelik giftig.
’n Mens kan nie help om jammer te voel vir die skelm ontvangers van die onlangse buit van renoster- horings uit die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad nie.
Die horings van die opgestopte ou dier word nou iewers in die Ooste as prikkelmiddel verkoop, opgemaal en by kos gevoeg.
Wat die diewe nie kon weet nie, is dat die renostertjies lank gelede met arseen gebalsem is, veral hul horings. Hier smaail die wrokkige gees van die gifmoordenaar Daisy de Melker met elke happie wat die arme Oosterlinge in hul soesji gaan eet.
Taras Grescoe wy ’n hele hoofstuk in sy boek The Devil’s Picnic aan Spaanse bulle se mangereedskap – soos lamspeertjies, net groter. Criadillas is ’n befaamde Spaanse gereg, gemaak van jong bulle se mangoed nadat hulle in die bulgeveg-arena teen die matador verloor het.
Spanjaarde is gesteld op hul manlike krag in die kooi. Grescoe eet hulle toe in ’n Spaanse restaurant. Lekker, ja, maar hy het gedink hulle is ’n bietjie klein vir ’n bul van oor die 700 kg. Nee, sê die kelner, ons het vir jou ’n vark s’n voorgesit; die bulle is nou te skaars.
Toe is die criadillas skielik nie meer lekker nie.
Nee wat, kom ons eet liewer aspersies. Dié heerlike groente is al eeue as ’n opkikker bekend, en ons hoef nie meer tot die lente vir hulle te wag nie, want hulle word die hele jaar in tonnels gekweek.
Dien dit liggies gestoom op, met ’n warm bottersousie en suur- lemoen, asook soldaatjies van growwebrood waarmee jy die sous op die bord afvee en opeet.
Die Nederlanders wag vir die dik, wit Franse aspersies en sit dit voor met hardgekookte eiers, ’n egte, tuisgemaakte mayonnaise, die beste ham en ’n vars groenslaai. Vir artisjokke moet ons tot September of Oktober wag. Om jou liefdeslewe woema te gee is daar niks beters nie, beweer die wyses. Dis ook die manier waarop jy hulle eet: Kook hulle tot sag in water, verwyder die blare een vir een, doop in gesmelte botter en skraap die geurige vleisies met jou tande af. Wanneer jy by die hart van die groente uitkom, verwyder jy die harige binnekant, sny die hart in twee en voer jou maat dié salige binneste.
Resultate gewaarborg, veral as jy ’n tikkie knoffel by die sousie voeg, maar dan moet julle albei dit eet.
Dik skywe lendebiefstuk oor ’n oop vuur gaargemaak, kos ’n week se salaris, maar suster, vir jou gaan dit werk. Die kêrel werskaf ewe manlik met stukke hout en roosters terwyl jy ’n koppie room met ’n vingerhoed vol brandewyn klop. Vir nagereg haal jy jou befaamde sjokoladepoeding uit die oond.
Die antieke Asteke in Sentraal-Amerika het kakao as ’n wondermiddel en prikkelkos beskou. Hulle was die uitvinders van sjokolade soos ons dit ken, en dié drankie is aan maagde gevoer en as offerandes aan die gode gebrand. Soms die maagde ook, siestog. Nou sit ons by die kaggelvuur en drink ’n beker kakao voor slaaptyd, maagdelikheid vergete.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |