|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Streel die gemoed met die regte glas wyn.Foto: MORGUEFILE.COM
Leefstyl
FYNPROE: Borrel oor van tevredenheid
06/05/2008 08:30:52 PM - (SA)
Wat is ’n romantiese of spesiale ete sonder wyn om die smaakkliere te verlei? Christine Rudman vertel.
ALMAL moes al ’n spesiale en intieme ete beplan waar dit net die twee van julle is en jy alles probeer om ’n goeie indruk te maak. Julle hoef nie iets spesifieks te vier nie – dit kan bloot wees om iemand spesiaals in jou lewe te bederf.
Of dit in jou eie huis gaan wees of in ’n restaurant, dit moet vooruit beplan word. Natuurlik is die druk veel groter as jy kies om dit by die huis te doen en jy jou hande vol het met kleiner besonderhede om die aand perfek te maak. As jy ’n restaurant kies, besoek dit voor die tyd en gaan praat met die sjef en sommelier oor wat jy beplan.
Maar onthou dat alles jou besluit moet bly – jy is die een wat die feite ken: Jul verhouding en die geskiedenis daarvan, waarvan die ander persoon hou en waarvan nie, wat jy met die aand wil bereik, die tyd tot jou beskikking en, natuurlik, jou begroting.
Om die gevoel te skep waar albei van julle kan ontspan en die wêreld kan vergeet, moet jy die kennis benut wat jy oor die ander persoon het en jou in sy of haar skoene plaas. Jy weet moontlik waarvan die persoon hou, maar die kuns lê daarin om die perfekte dis uit al die gunstelinge te kies.
Kies eerder kleiner geregte as een of twee hoofgeregte. Só kan jy die ete langer uitrek en al die sintuie verlei. Ons is almal geneig om te vinnig te eet in ons besige lewe en dan word kos eerder ’n noodsaaklikheid as dat dit werklik gewaardeer word.
Neem ’n vakansie en glip weg. Jy sal vinnig jou smaakkliere herontdek en weer waardering hê vir die plesier van eet en die goeie herinnerings wat dit agterlaat.
En wanneer dit by die wyn kom, maak seker dit is ’n sensuele ervaring. ’n Vonkelwyn is altyd ’n goeie begin, want jy stuur die boodskap uit dat jy die geleentheid as baie spesiaal ag – maar dit doen ander dinge ook! Dit skep ’n ruskans ná dit waarmee jy vroeër die dag besig was, want jy drink dit voordat daar geëet word. Dit sorg dat alles in ’n rustiger luim geskied.
Behalwe dat dit die verhemelte skoonmaak en smaakkliere stimuleer vir die kos daarna, verhoog die borrels die opname van alkohol in die bloedstroom. Dít is presies hoekom dit ’n ideale begin is vir enige geleentheid – dit laat jou ontspan en skep ’n goeie gemoed.
Daarna moet jy net soveel aandag aan jou keuse van wyn skenk soos met die kos: ’n Klein of halwe glas per maalgang is ideaal, en hou die smaak, tekstuur, gewig en kleur in gedagte.
Gebruik jou verbeelding. Probeer ’n droë rosé met salm om by die kleur van die vis te pas, maar ook om die rykheid daarvan ’n bietjie af te skaal. Dit sal jou verhemelte verfris. Chardonnay of ’n gehoute chenin of semillon is ideaal om met eend of hoender te geniet. Vir die meeste vleis sal die rooiwyn van jou keuse gepas wees. Dit is ’n bonus as jy weet wat jou metgesel se gunsteling is!
Die uitdaging is om te sorg dat die wyn en kos perfekte bedmaats is. Byvoorbeeld, beesvleis se struktuur gaan tradisioneel goed met cabernet sauvignon op sy eie, of ’n bordeauxversnit; lam is ideaal met ’n rhôneversnit, shiraz op sy eie of ’n pinotage. Dit hang ook af hoe die vleis gaargemaak is. Gee vrye teuels aan jou verbeelding, solank jy by die basiese versoeningskwaliteite in gedagte hou.
Ek hou nie daarvan om soetwyn of port met die nagereg voor te sit nie, maar dit gaan wel goed met die meeste kase.
Tog, om die ete met ’n smaaklike soetwyn of port af te sluit laat ’n welkome smaak in die mond agter. Maar onderbewustelik voer dit ons ook terug na ons kinderdae toe die lewe soveel eenvoudiger was en lekkertjies iets vreesliks spesiaals was. Moenie ooit die krag van jou herinnerings onderskat nie!
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |