|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Fanie en Chané Malherbe (links) het tweede gekom, Magnus en Chelley Kriel (middel) het die eerste plek opgeraap, en Dries en Anneen du Toit was derde. Foto: LULAMA ZENZILE
Leefstyl
BRUIDSPAAR van die jaar: ‘Hy is my wingerdstok
Die Burgeren FAB se bruidspaar van die jaar is Saterdag in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangewys. Samarie Smith, Elbeth Gillis, Charlene Sauerman, Graham T. Brown, Ilse Roux, Kobus Dippenaar en Paul van Zyl het die moeilike taak gehad om een van die 12 finalis-pare as wenner te kroon.
BUITEN die effense senuagtigheid aan die begin was dit duidelik hoe baie die egpare die aand geniet het. Of hulle nou onder die eerste drie pare geëindig het of nie, elkeen is met pryse daar weg.
Die wenners, Magnus en Chelley Kriel, se spontaneïteit en verliefdheid was van hul kwaliteite wat hulle uit die staanspoor die beoordelaars se guns laat wen het.
En soos al die ander manne het Magnus, wynmaker en bestuurder van die Merwida Wynkelder in Rawsonville, net mooi geglimlag – al was dit nie die ideale dag nie omdat hulle die groot rugbywedstryde moes prysgee sodat vroulief vir oulaas in haar trourok kon paradeer.
“Ek het nog nooit so baie “ja” gesê soos die afgelope week nie! Maar dit was alles die moeite werd en groot pret. Ek en Chelley is net soos ons is. Sodra die besige tyd by die kelder verby is en die jag-maand agter die rug is, vat ek haar hier teen Augustus vir ons tweede wittebrood,” sê Magnus opgewonde.
Ook Chelley, ’n gr.-2- Engels-onderwyseres in die Primêre Skool Worcester, het dit gate uit geniet. “Al die pare was sulke fantastiese mense. My skoen het met die eerste ronde halfpad uitgeval, maar ek het nét so aangeloop,” vertel sy en lag.
“En toe ons by die huis kom, kon ons nie gaan slaap nie; ons is só opgewonde oor die pryse: ’n tweede honeymoon en fantastiese braaipanne van AMC Cookware. Die vonkelwyn is ook reeds oopgemaak. Ek sal vir al die borge ’n brief moet skryf om hulle te bedank!”
In die laaste ronde het die beoordelaars aan die finaliste vrae gestel om vas te stel hoe goed hulle mekaar ken.
“As jy ’n liedjie vir jou man of vrou sou skryf, waarmee sou jy hom of haar vergelyk?” is hulle gevra.
“Ek sou haar met ’n blom vergelyk.”
“En ek sou hom met ’n wingerdstok vergelyk: Eerstens hou ek van wyn, Magnus is stewig in die aarde gegrond, en hy dra baie vrugte!”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |