|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() ’n Jong en geil waterbessie. Om die pragtige stam te geniet en die blaredak hoog te maak moet jy die jong bome se sytakke gereeld verwyder.
Leefstyl
Plant nóú waterbessies
29/04/2008 07:54:09 PM - (SA)
DIE weer is só lekker daar buite, daar is baie vakansiedae en dis nou die ideale tyd om te plant!
Hoekom spring jy nie vandag nog weg met ’n paar immergroen waterbessies nie? Koop hulle mooi groot in 20 kg- of 50 kg-sakke, want wie het nou deesdae nog die geduld om vir ’n piepklein boompie te wag?
Syzigium cordatum (“umJomi” in Xhosa) is ’n vinnig groeiende netjiese skaduboom wat letterlik in elke seisoen van die jaar ’n offergawe aan mens en dier bied. Die bome met hul digte, spreidende krone is in die lente oortrek met massas donsige, room tot sagte pienk blomme met ragfyn stuifmeeldrade vol soet nektar. Later volg die trosse blinkswart bessies waarvan die rypstes heerlik soet is en ander wat nog bekwaam moet word, jou kiewe inmekaar laat trek met die suur, bytende smaak. Die boom se hart is so groot dat ’n mens dit selde sien sonder ’n paar blomme of vruggies wat tussen die blou-groen, leeragtige blare wegkruip.
Waterbessies behoort tot die Myrtaceae-familie. Ander familielede met geurige blomme en vrugte is koejawels, granate, Australiese bloekoms en jamboese. Naeltjies en all spice wat ons in die kombuis gebruik, is ook verwante.
Die bome kom wyd verspreid in Suider-Afrika voor langs strome, in rivierbos en moerasagtige gebiede en groei besonder goed na aan die kus waar humiditeit (en die watertafel in die grond) hoog is. As jy dus met nat en swaar, kleierige grond wat swak dreineer in jou tuin sit, is die waterbessie net die boom vir jou, aangesien dit vir lang periodes in deurdrenkte grond sal oorleef.
Die bome word deesdae in baie meenthuiskomplekse aan die kus aangeplant, omdat hulle so wind- bestand is en nie in ons Wes-Kaapse klimaat so reusagtig groot word nie (18 m in ’n natuurlike habitat is nie onmoontlik nie!). Die meeste tuinboeke gee hul volwasse grootte as 8-11 m x 11m aan en beskryf dit as ’n middelslag-tuinboom.
Die wortelstelsel, wat immer dieper na water soek, is egter redelik aggressief en sal skade aan plaveisel en swembaddens aanrig. Die vallende bessies, wat as pers kleurstof gebruik kan word, kan ook lelike vlekke maak.
Waterbessies is van die begeerlikste bome vir allerlei natuurlewe. Die soetgeurige blomme se nektar lok bye en ander insekte, wat natuurlik weer insekvretende voëls na jou tuin toe sal uitnooi. Vir vrugtevretende geveerdes en al die verskillende kese en bosvarke is die bessies onweerstaanbaar, en wild vreet graag die blare.
Mense gebruik die duursame hout om bote en meubels te maak, die vrugte om jellie te kook en ’n kragtige alkoholiese drankie te stook, en die bas om diarree en maagongesteldhede te behandel.
Maar volgens my bronne is dit nog nie al nie! Blykbaar kan die bas ook as rooibruin kleurstof gebruik word en in verpoeierde vorm as gif wat visse dood.
Daar word ook beweer dat die boom nie maklik aan die brand slaan nie. Die blare en wortels het ook medisinale waarde vir asemhalingsprobleme en tuberkulose. As ’n mens al die goeie hoedanighede wat oor dié boom aangeteken is, lees, dan klink dit asof die waterbessie eerder as die appel die paradysboom moes wees!
Tuinboukundig sou ek meer as een van dié bome naby mekaar, (vir heerlike koel skaduwee in die somer), maar ’n ent weg van die huis af in komposryke, goed voorbereide plantgate plant. Vir vinnige en welige groei moet hulle in die somer gereeld en diep natgelei word. Plaas ’n deklaag van kompos of ander organiese materiaal om die wortelstelsel en gee elke lente en weer in die herfs ’n handjievol organiese kunsmiskorrels.
Bronne:
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |