|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Ella Buter is sedert haar tienerjare al versot op kleremaak.
Leefstyl
Mode ken geen perke
29/04/2008 07:53:42 PM - (SA)
KAPENAARS kan uitsien na modevertonings wat ook in Cavendish Square en die Promenade-inkopiesentrum in Mitchells Plain gehou sal word. Die hoofdoelwit van die fees is om die Suid-Afrikaanse mode- bedryf te vier en die waarde daarvan vir werkskepping te belig.
En dié wat reeds met Ella Buter (Superella) se uitsonderlike winterreeks by die Sanlam-modeweek kennis gemaak het, en veral dié wat dit misgeloop het, sal môre die kans kry om dié reeks onder oë te kry.
Ella se ontwerpe het vir ’n staande applous en trane in baie se oë gesorg toe haar statige modelle, almal vroue duskant of oor die tagtig, haar uitrustings trots geparadeer het. Ella is daarvoor bekend dat sy baie kere nie modelle gebruik om haar klere te vertoon nie, omdat sy glo dat haar ontwerpe vir enige vrou toeganklik moet wees.
Volgens Ella gaan sy wel gewone modelle vir haar Kaapse vertoning gebruik om weer ’n ander dimensie van haar klere oor te dra.
“Daar was werklik iets spesiaals aan my laaste vertoning. Ek was so geïnspireerd toe ek die liedjie ‘Young at Heart’ van Tom Waits se jongste CD gehoor het: fairytales can come true, it can happen to you if you’re young at heart!” vertel sy, altyd met ’n lag in haar stem.
“Ek het kollegas, vriende en familie genader om uit te vind watter vroue sou belangstel. Ouer vroue sou beslis ’n kontradiksie op die loopplank wees en hulle het ook daardie ekstra karakter wat jonger vroue nog nie het nie.”
Die vertoning het vir ’n gloed op alle vroue se wange gesorg. Om deur die stereotipe idees van skoonheid te breek het bevestig dat ouderdom nie ons styl, waardigheid en trots sal stroop nie, maar dat elke vrou die ouderdomsleer elegant en met styl kan klim.
Mavis, een van die modelle, is steeds in ekstase oor wat dit vir haar as vrou gedoen het en vertel hoe hulle nou na haar as “ons model” in die ouetehuis verwys. “It was marvellous, my dear! Vir ’n vrou van my ouderdom om gevra te word om aan ’n modeparade deel te neem was só ’n groot eer. En dat my dogter die vertroue in my gehad het dat ek dit vir Ellie sou kon doen, is wat my so trots maak op hulle.”
Mavis Maisel (81) vertel die storie van haar aand as model die honderdste keer – maar met net soveel entoesiasme. “Toe ek my ding in die paadjie doen, jy weet, my turn en tut, het ek net sterre om my gesien. En toe ek die tweede keer omloop, toe staan mooi, jong vroue op met trane in hul oë om vir my hande te klap. Dank God ek was in staat om dit so goed te kon doen. Wat ’n sensasie op my ouderdom!”
Volgens haar het Ella gekies wat by elkeen sou pas.
“Haar klere verteenwoordig styl en gemak in die mooiste kleure. Wel, my uitrusting het my op die voorblad van die Star, die Cape Times én op TV laat beland! Naas die dag wat ek my dogters in die lewe gebring het, was dit die opwindendste dag in my lewe. Daardie aand was ek 21 jaar oud, nie 81 nie.”
En ná al haar sukses is Ella se voete steeds op die aarde en vind sy heeltyd inspirasie in dit wat om haar is.
“’n Vriendin het eendag gesê ek dink net aan klere. Ek kan nie help om mense op te let, na hul liggaamsvorm te kyk en te wonder waarin hulle die mooiste sal lyk nie. Dit werk maar so met kreatiewe mense – jy voed jou brein op alles wat rondom jou is.
“En om te sien hoe ’n ontwerp presies uitwerk soos jy dit voorgestel het, is net so opwindend!”
Sy het sekretarieel en tuisteskepping gaan studeer en as winkelvenster- versierder gewerk toe sy die Elle-mode- ontwerpkompetisie gewen het.
“Ek het klere gemaak wat meer goed kon word – soos hemde waarvan die moue afgehaal kan word.”
Sy het ’n beurs ontvang en in 2000 aan die London International School of Fashion Design in Rosebank gaan studeer. In 2004 het sy die eerste keer aan die modeweek en die Design Indaba deelgeneem. Maar Ella se onpretensieuse en eerlike persoonlikheid maak haar nét so gewild.
“As jy R1 000 vir iets gaan betaal wat jy slegs ’n paar keer gaan dra, is dit duur. Maar as jy dieselfde bedrag betaal vir iets wat drie jaar tydloos gaan bly, is dit ’n belegging,” gee Ella raad.
Sy glo dit is belangrik vir mense om elk hul eie persoonlike styl te ontwikkel en nie net die mode na te volg nie.
“Vroue moenie bang wees om nuwe style te probeer nie. Goeie ontwerpe help juis om groter dele te verdoesel en die beste van jou liggaam te wys.”
Daar is beslis ’n verskuiwing nodig in die manier waarop vroue na hulself kyk, glo Ella.
“’n Vrou kan na iets op die hanger kyk en glo dat dit nooit met haar sal werk nie. Maar as sy net daardie aanmoediging kan kry om iets nuuts te probeer, kan sy net verras wees. Maar jy moet steeds ’n sterk persoonlikheid hê om my klere te dra!”
Ella werk meestal met natuurlike kledingstof. “Ons land is te warm vir poliëster, tensy dit nie direk op jou vel gedra word nie. Linne en katoen werk die beste hier.” Sy glo die sukses en impak van haar ontwerpe lê in die eenvoud en in die kwaliteit daarvan. Sy is ook self by die maak van die klere betrokke en doen die patrone, terwyl Shaiwi vir haar stik. “Ek glo dat ek meer beheer oor die produk het as ek self daarby betrokke is.”
Vanuit ’n ontwerpersoog glo Ella nie dat dit nodig is om jaarliks jou klerekas aan te pas nie. “Jy moet bereid wees om binne jou versameling aanpassings te maak. Bly by iets wat werk, maar probeer om dit op verskillende maniere te dra.” Die regte ontwerp of kledingstuk kan ’n mens se lewe verander. “Dit is wonderlik om te sien hoe my ontwerp ’n vrou haar mag kan teruggee en haar selfvertroue kan verbeter. Maar ’n mens moet altyd nederig bly – jy gaan nie altyd bo wees nie.”
Met haar suster as gereelde kommentator kyk sy heeltyd met nuwe oë na haar ontwerpe en begin elke reeks van voor af. “Ek begin elke reeks by punt zero. Dit hou ontwerpe vars en sorg dat ek nie ontwerpe herhaal nie. Die oomblik wanneer jy te gemaklik met jouself raak, verloor jy daardie edge – daardie iets wat jou op jou tone hou.” Vir navrae kontak Ella by 082 845 5551
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |