|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Leefstyl
Danspassies streel die psige
29/04/2008 07:52:47 PM - (SA)
Buikdans
BUIKDANS is die Westerse naam vir ’n danssoort wat in die Midde-Ooste ontstaan het. Dit bestaan hoofsaaklik uit sirkelbewegings van die heupe of torso.
Sommige buikdanstegnieke konsentreer op die vermoë om onderskeie spiere of spiergroepe te isoleer en onafhanklik te beweeg. Sluierwerk ontwikkel weer die bolyf en oefen veral die arms en skouers.
Buikdans versterk die binneste kernspiere van die liggaam en bevorder soepelheid, postuur en beenkrag.
Vroue van alle ouderdomme en vorme getuig van die waarde wat buikdans vir hulle inhou. Dit verhoog ook jou selfbeeld en eiewaarde en sit sommer ook vonk in jou slaapkamer.
Die kans om beserings op te doen is gering omdat dit nie spronge, hiperekstensies of ekstreme liggaamsbewegings insluit nie.
Jy hoef ook nie superfiks te wees wanneer jy begin nie. As jy reeds met beserings sukkel, soos laerugprobleme, is dit belangrik om eers met jou dansinstrukteur te praat sodat jy bewegings kan vermy wat jou beserings kan vererger.
Met buikdans kan jy 250 tot 300 kJ per uur verbrand, in teenstelling met die 100 kJ per uur as jy voor die televisie vasgenael sou sit.
Vir meer inligting oor buikdans, bel The Oriental Bellydance Studio by 082 857 9715 of stuur e-pos na bellydancer@telkomsa.net.
Paaldans
PAALDANS behels sensuele dansroetines wat met ’n vertikale paal gedoen word. Hoewel dit in ontkleeklubs bekend geraak het, word dit as ’n erkende vorm van oefening beskou.
Paaldansinstrukteurs glo dat mense van alle ouderdomme en vorme die dans kan bemeester. Dit neem beginners ongeveer drie tot ses maande om gemaklik met die paal te raak en ongeveer ’n jaar om gevorderde bewegings te kan uitvoer.
Paaldans is veral goed vir die ontwikkeling en vorming van die bolyf, maar maak die hele liggaam fermer en verbeter soepelheid, stamina en postuur. Op gevorderde vlak kan paaldans ’n baie uitdagende oefensessie bied. Maar die fisieke voordele is net gedeeltelik daarvoor verantwoordelik dat paaldans vinnig in gewildheid toeneem. Baie vroue is dit eens dat die sielkundige voordele veel groter is. Paaldans leer vroue om gemaklik te raak met hul liggaam deur dit op sensuele wyse ten toon te stel. Dit help vroue om begeerlik te voel en verrig wondere vir hul liefdeslewe. ’n Paaldansklas bestaan uit ongeveer 10 minute van opwarmingsoefeninge, 40 minute kardiovaskulêre oefeninge op die paal en ’n afkoelsessie van 10 minute.
Vir meer inligting oor paaldans, besoek www. bodymind.co.za.
Bronne: www.shira.net; www. health24.com; www.buzzle.com; wikipedia; http://psychologytoday.com; The New England Journal of Medicine; http://www.rhythminlet.com
WETENSKAPLIKE navorsing wys al hoe meer op die verrassende sielkundige voordele van dans: van groter emosionele kalmte tot ’n meer positiewe geestesgesteldheid en gevoelens van vervulling – dít alles terwyl fiksheidsvlakke verhoog word.
Dit is lank reeds aan sielkundiges bekend dat aërobiese oefening geestesgesteldheid verbeter.
Lang tye van harde oefening (waaronder dans ook tel) veroorsaak dat die brein serotonien, noradrenalien en endorfiene vrystel wat jou luim verbeter en gevoelens van tevredenheid en behaaglikheid meebring.
’n Bykomende voordeel is dat proteïen in die breinselle vervaardig word, wat weer die groei van nuwe neurone en selverbindings stimuleer, sodat dit letterlik tot meer buigsame denke lei.
Tog is bevind dat dans die gemoed nog positiewer as ander oefeninge beïnvloed.
Navorsers aan die Londense universiteit het pasiënte wat aan angsversteurings gely het, in een van vier terapeutiese groepe geplaas: ’n modernedansklas, ’n oefeningklas, ’n musiekklas en ’n wiskundeklas. Net die angs van die pasiënte in die dansgroep het betekenisvol afgeneem.
Verder het ’n studie oor veroudering wat aan die Albert Einstein College of Medicine gedoen is, getoon dat uit ’n verskeidenheid fisieke aktiwiteite (waaronder fietsry, dans en swem) dans die risiko van demensie en Alzheimer-siekte verminder het.
Hoekom werk dit?
Mense reageer positief op dans.
’n Algemene beginsel is dat ritmiese beweging in kombinasie met musiek die brein se “plesierkringloop” aktiveer.
Volgens me. Barbara Gail, ’n Amerikaanse dans- en bewegings-terapeut, begin navorsers uiteindelik om op wetenskaplike gebied erkenning te gee aan die gesondheids- en stresverligtingsvoordele van genotvolle ritmiese liggaamsbeweging – iets wat duisende jare reeds aan die mensdom bekend is.
Ritme bevorder weerstand teen siektes, voed die brein en oefen ’n kalmerende invloed op die sentrale senustelsel uit.
Dans vereis dat verskillende dansroetines geleer en onthou moet word, wat voordelig en uitdagend vir breinfunksionering is.
Daarby is dans ook ’n sosiale aktiwiteit wat mense laat ontspan. Dit gee mense kans om met mekaar te “bind” – ’n belangrike faktor in ons moderne samelewing waar mense geneig is om te vereensaam en nie by ander betrokke raak nie.
Prof. Miriam Berger, dansprofessor en terapeut aan die New Yorkse universiteit, sê dat dans mense toelaat om hulself te beleef op maniere wat hulle nie gedink het hulle kan nie. Sy glo jy kan jou innerlike ingesteldheid deur eksterne beweging verander. Omdat dans mense toelaat om hulself op ’n ander vlak uit te leef, help dit hulle om aan hul gevoelens uitdrukking te gee en hul emosies te verwerk.
Buikdans en paaldans is baie gewild. Albei bevorder fiksheid en laat spiergroepe oefen wat nie normaalweg deur gewone gimnasiumwerk oefen nie. Boonop help dié danse vroue om hul sensualiteit opnuut te ontdek en uit te leef.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |