|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Moenie oorboord gaan met die eerste paar maande se inkopies nie. Maak eers seker wat baba nodig het voordat jy onnodige onkostes aangaan.FOTO’S: WWW. MORGUEFILE.COM
Leefstyl
Ditjies en datjies vir jou en baba
29/04/2008 07:49:39 PM - (SA)
VOLGENS Leonie Mollentze het sy sélf in die slagyster getrap om “bababenodigdhede” te koop wat sy nooit gebruik het nie!
Nou word sy nie meer deur babawinkels en hulpvaardige winkelassistente oorweldig nie.
Jou voorbereiding vir ’n nuwe asempie in die huis begin lank voor die baba verskyning maak.
Vroegtydige inkopies help jou om jou babakamer betyds in orde te kry, terwyl dit finansieel meer sin het om elke maand gedurende jou swangerskap ’n paar goedjies aan te koop.
Daar is natuurlik ’n paar slaggate vir nuwe ma’s. Skielik begin almal – van jou skoonma tot jou beste vriendin tot die kassiere by die winkel – jou te vertel wat jy nodig het. En die babawinkels kan jou maklik ’n minderwaardigheidskompleks gee as jy nie die “regte” keuses maak nie.
Waar begin ’n mens dus? Wat het jy werklik gedurende die eerste ses tot twaalf maande van jou kind se lewe nodig?
Bed en beddegoed
*As julle kranige kampeerders is of baie reis, dink daaraan om ’n kampbedjie in plaas van ’n tradisionele bababed te koop. Jou baba se bed bied hom ’n bekende omgewing en hy raak gewoond aan sy bed, al reis dit na vreemde omgewings!
*Indien jy ’n tradisionele bababed verkies, wees op die uitkyk vir een met ’n verstelbare basis sodat dit ’n bietjie hoër is wanneer jou baba baie klein is en laer kan sak namate jou baba groei.
*Belê in ’n spesiale babamatras – die een met gate aan die een kant.
*Jy het nie ’n babakussing nodig nie!
*Moenie nee sê vir ouma se gebreide of gehekelde kombersies nie. Hulle hou baba warm, maar oorverhit nie en vergaar nie soveel stof soos die kombersies wat jy in die winkels kry nie. Koop so vyf tot tien kombersies.
Stootwaentjie
*Neem jul leefstyl in ag. As julle baie tyd in die buitelug deurbring of draf, sal ’n driewielwaentjie (jogger) ideaal wees.
*Vou die waentjie op en af in die winkel en maak seker dat dit nie te swaar is nie en klein genoeg opvou om in jou kattebak te pas!
*Remme is belangrik; skokbrekers nie. Kry ’n waentjie wat jy met gemak kan gebruik.
*Soek ’n waentjie wat ’n bypassende motorstoeltjie het. Dit is perfek vir baba tot op ses maande en jy het tot dan nie ’n aparte motorstoeltjie nodig nie.
Klere
*Moenie te veel pasgebore (0 – 3 maande) klere koop nie. Babas groei verbasend vinnig! As jy betrokke is by jou eie ooievaarstee, moenie skaam wees om vir sekere groottes klere te vra nie.
*Neem die seisoen waarin jou baba gebore gaan word in ag en beplan daarvolgens.
*Koop klere wat jy in lae aan- en uit kan trek.
*Hou by die “vyf-van-elk-plan” en kry: kortmou- en langmoufrokkies (verkieslik frokkies wat tussen die bene vasmaak); kort- en langmou-eenstukpakkies; hempies en sagte broekies; borslappies; spoegdoeke.
*Baba het nie skoene nodig nie!
Bottels, ensovoorts
*As jy borsvoed, het jy nie baie bottels nodig nie, tensy jy weer gaan werk en melk vir jou dagmoeder/dagsorg gaan uitpomp.
*Vier groot bottels en vier kleintjies is genoeg. Ons het verlede jaar saam met vriende gaan kamp wat dertig bottels en tien formule-houertjies saamgebring het!
*Jy kan van ’n sekere handelsnaam hou wanneer dit by bottels en fopspene kom, maar koop eers so drie van elk en kyk waarvan jou baba hou! Ek moes tien verskillende botteltiete en vier verskillende fopspene koop voor Heidi besluit het waarvan sy hou!
*’n Mikrogolfsteriliseerder is fantasties. Moenie te veel geld bestee op een wat net deur ’n sekere handelsnaam gemaak is nie. ’n Gewone een by ’n winkel soos Game is perfek.
Doeke
Doeke is jou grootste uitgawe. Koop elke maand ’n paar pakke en koop eerder groter as kleiner doeke.Pampers of Huggies Gold is maar die beste aan die begin en jy kan na goedkoper doeke beweeg wanneer baba ’n bietjie ouer is.
Klam doekiesis nog ’n groot uitgawe en daar is verskillende handelsname beskikbaar. Behalwe vir Pampers het ek Pick n Pay se lappies die beste gevind. Hulle is sag op bababoudjies en nie te seperig nie.
Nuut of tweedehands?
Baie nuwe ma’s verkies om alles nuut te koop. Dis dalk ’n goeie idee as jy beplan om meer as een kind te hê, maar daar is niks verkeerd met ’n tweedehandse bababed, stootwaentjie of babamonitor nie.
Dan is daar ook nog ’n ooievaarstee (wat gerus voor of ná baba se geboorte gehou kan word, afhangende van die ma) wat wag en jy kan verseker wees van baie welkome geskenke. Moenie skaam wees om te sê wat jy wil hê of benodig nie! Die belangrikste is om jou leefstyl in ag te neem wanneer jy jou keuses maak.
Lees
*Daar is ontsaglike baie boeke op die mark, maar ek en die meeste ma’s met wie ek al gepraat het, het die What to Expect . . .-reeks uitstekend gevind. Die boeke neem jou deur jou swangerskap, die eerste jaar en die lewe van jou kleuter, en beantwoord feitlik elke vraag! (Eisenberg, Murkoff & Hathaway – Simon & Schuster)
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |