|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Landbou
Gevaarlike siekte vat pos in wingerde
23/04/2008 11:07:49 PM - (SA)
’N SIEKTE wat wingerdstokke teister, het oral in die Wes-Kaap kop uitgesteek, en is ook al in Chili, Italië en die VSA geïdentifiseer.
Die siekte, wat die potensiaal het om net so vernietigend te wees soos filloksera in die laat 1880’s, toe wingerde wêreldwyd tot niet gegaan het, word waarskynlik deur ’n klein insek, ’n blaarspringer, versprei.
Die insek dra ’n fitoplasma of primitiewe bakterie oor, wat die floëemvate van die aangetaste deel verstop en groei belemmer.
Simptome van die siekte kan maklik met die virussiekte rolblad verwar word omdat dieselfde krulblaar ook voorkom. Skyfies wat mnr. Jeff Joubert, wingerdbou-konsultant vir die Olifantsrivierstreek, gewys het, toon egter duidelik simptome soos onegalige bot, wingerdtrossies wat aborteer, vergeling van die blaar, met die groeipunt wat by wit kultivars afval, terwyl die blare rooi word by rooi kultivars, en die kenmerkende loodgrys kleur van geaffekteerde wingerdlote. By jong wingerdstokke kan die hele stok geraak word.
In ’n laat stadium van die siekte kan selfs volwasse trosse aborteer, en wingerdlote terugsterf.
Die siekte word met blomplante vereenselwig omdat dit die insek se natuurlike habitat is, vandaar die naam “Aster Yellows”.
Chardonnay is veral vatbaar, maar die siekte is al by al die ander kultivars aangetref. Hoewel dit aanvanklik net hier en daar uitgeslaan het, het dit vanjaar met rasse skrede toegeneem, en in sommige gevalle hele wingerdblokke aangetas, vermoedelik weens gunstige klimaats- toestande.
Gashere van die insek is onkruidgewasse, soos misbredie, muggiewortel, Skotse dissel, brandnetel, die olieboom en kiesieblaar, asook die plante van tamaties, groenrissies, aarbeie, aspersies en wortels. Laasgenoemde laat ’n mens wonder of tonnelboerdery nie ook dalk ’n rol speel nie. Om verspreiding van die siekte te voorkom word aanbeveel dat aangetaste dele verwyder en verbrand word, en saam daarmee onkruidbeheer toegepas word.
’n Drastiese spuitprogram met ’n insekdoder, drie maal vandat die wingerd begin bot, word verder aanbeveel. Joubert beveel ook aan dat lokvalle in die wingerd gehang word om die voorkoms van die insek te monitor.
“Omdat die siekte so maklik oorgedra word, en die insek blykbaar heeljaar aktief is, is ’n gesamentlike beheerstrategie nodig. Eintlik behoort die bestryding deur wetgewing afgedwing te word,” meen hy.
Hoewel die departement van landbou al daarvan in kennis gestel is, sal dit waarskynlik nog ’n geruime tyd duur voordat wetgewing oor die beheer van die siekte ingestel sal word.
’n Teorie bestaan dat die aura van stokke onder stres dalk die insek aanlok. Stresbeheer in die wingerd kan dus ook ’n rol speel.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |