|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Landbou
Kaaservaring soos min wag by fees
23/04/2008 11:08:50 PM - (SA)
DIE Suid-Afrikaanse Kaasfees begin vandag en duur tot Maandag op die historiese proefplaas Bien Donné in Simondium tussen die Paarl en Franschhoek.
Duisende mense sal oor die vier dae deur die hekke stroom om die kaasgebeurtenis van die jaar te belewe.
Die Kaasfees is verlede jaar deur die Exhibition and Event Association of Southern Africa met die toekenning vir die beste uitstalling van die jaar in Suid-Afrika vereer. Die toekenning is gedoen in die handels-en-verbruikerskategorie vir uitstallings groter as 12 000 m².
Die organiseerders beloof dit gaan ’n ware plaas-tot-tafel-kaaservaring vir oud en jonk wees.
Kom geniet ’n magdom van die land se kampioenkase en ontdek die talle nuwe soorte waaraan kaasmakers hul hand gewaag het. Saam met die kaas is daar ook “smaakvennote” soos van die land se voorste wyne, olywe en varsgebakte brood.
Besoekers kry ook kans om plaaslike kase met dié uit Frankryk te vergelyk. Franse kase is spesiaal vir die Kaasfees ingevoer.
Van die land se voorste koskenners en kaasmakers gaan hul geheime deel en nuwe neigings in die wêreld van kaas gaan gedemonstreer word.
Nasionale kampioenkase, wenners van die Qualité-toekennings en ander suiwelprodukte van topgehalte, kan geproe word – danksy die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioene vir produkte soos botter, maaskaas, roomys, kaas en jogurt wat vandeesweek aangewys is nadat byna 70 vervaardigers se produkte beoordeel is.
’n Toegangskaartjie kos R75 en is by Computicket beskikbaar. Senior burgers kan die fees bywoon vir slegs R45 en kinders 12 jaar en jonger word gratis toegelaat. Die getalle word beperk, moet dus nie tyd verspil om kaartjies te bekom nie.
Die hekke sal van vandag tot Sondag oop wees van 10:00 tot 18:00, en Maandag van 10:00 tot 17:00. Kontak die organiseerder, Agri-Expo, vir meer inligting by tel. 021 975 4440, per e-pos by cheese@agriexpo.co.za of besoek www.cheesefestival.co.za.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |