|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Landbou
Nuwe suiwel-tegnologie by Kaasfees
23/04/2008 11:05:26 PM - (SA)
SUIWER, ongepasteuriseerde suiwelprodukte met al die heilsaamheid en smaak van plaasvars melk sal vertoon word op die Suid-Afrikaanse Kaasfees wat van vandag tot Maandag op Bien Donné in Simondium, tussen die Paarl en Franschhoek, gehou word.
Die produkte, wat kaas, melk en jogurt insluit, is die resultaat van ’n revolusionêre, nuwe, koue ultra-violet-vloeistof-suiweringsproses.
Die proses maak dit moontlik om melk te suiwer sonder dat dit hitte-behandeling hoef te ondergaan soos by pasteurisasie en sterilisasie.
Pasteurisasie stroop nie net die plaasvars smaak uit melk nie; dit vernietig ook vitamiene en ensieme, beperk die absorpsie van kalsium en denatureer sekere proteïene met nadelige uitwerking op die voedsaamheid van melk en suiwelprodukte, volgens die uitstaller, mnr. Guy Kebble, uitvoerende hoof van Surepure.
“Verbruikers het ’n reg op beskerming teen enige skadelike elemente wat in suiwelprodukte kan voorkom,” sê hy. “Maar die verbruiker het ook die reg om die smaak en gesondheidsvoordele van suiwer suiwelprodukte te geniet sonder dat daarmee gepeuter is, ook bekend as pasteurisasie.
“Die Surepure-stelsel, wat in Suid-Afrika ontwikkel is en tans deur die wêreld se voorste suiwel-produserende lande gebruik word, is op ’n gepatenteerde UV-proses gebaseer.
“Hierdie proses vernietig alle skadelike mikrobes sonder om die vars melk aan hitte bloot te stel. As gevolg hiervan is die melk 100% veilig vir menslike verbruik, behou dit die vitamiene wat in die pasteurisasieproses vernietig word en proe dit soos dit hoort, na egte melk.”
Maar Kebble sê daar is niks soos eerstehandse ervaring om ’n aanspraak te beproef nie.
Surepure, wat tans deur verskeie Suid-Afrikaanse melkerye, met inbegrip van Sonnendal, Fair Cape, Oaklands en Fairview, gebruik word, sal besoekers aan die Kaasfees die geleentheid bied om hierdie koud gesuiwerde suiwelprodukte self te toets.
Die produkte sluit in melk met die natuurlike smaak van die plaas, romerige jogurt en ’n verskeidenheid geurryke kase gemaak van melk wat op dié wyse behandel is.
“Die meeste verbruikers het nog nooit kaas van ongepasteuriseerde melk geproe nie,” sê Kebble. “Die verskil val ’n mens onmiddellik op, vra enige Franse kaasmaker wat in ’n stryd met die EU gewikkel is oor die maak van tradisionele ongepasteuriseerde kaas.”
Volgens Kebble is dit nie slegs die verbruiker wat uit die tegnologie voordeel trek nie.
“Suiwelmaatskappye wat die stelsel installeer, vind dat hul operasionele koste laer is omdat die stelsel minder elektrisiteit verbruik as pasteurisasie en ook selfskoon- makend is,” sê hy.
“ ’n Verdere bonus is dat die behandelde melk se rakleeftyd vier dae langer is as die gepasteuriseerde produk s’n.”
En dis nie net suiwelliefhebbers wat daarby baat vind nie. Die proses is ook toepaslik op vrugtesappe en wyn, waar dit die gebruik van preserveermiddels en sulfaat uitskakel. Ook dié produkte sal op die Kaasfees vir proe beskikbaar wees.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |